2020: Die jaar van dankbaarheid en jolyt | 9Lives
Reading Time: 5 min

Pringlebaai se grondpaaie, woeste winde en kristalhelder-rotspoele het onlangs my hart, siel en menswees vernuwe. Die magiese krag van die Hangklipberg, tesame met die ysige lafenis van die Atlantiese oseaan het gehelp om die laaste dae van 2019 vir my met ekstase te omsoom. Die natuurskoon gepaard met die aardsheid, egtheid en vreugde van die Pringlebaai-inwoners het my opnuut laat besef dat dit my plig is om elke dag – met dankbaarheid, die lewe te vier. Ek het dié leefwyse van dankbaarheid met die begin van die nuwe dekade met ywer aangeneem.

Die oploop

Tydens ‘n troue in Oktober verlede jaar het ek ‘n kennis van my kleintyd raak gedans. Hy is kort daarna terug na Dubai, maar ons het besluit om kontak te hou. Planne is gemaak om mekaar weer te sien met sy aankoms in Suid-Afrika tydens die feestyd. Ek is toe genooi om die laaste dae van 2019 saam met hom en van sy vriende, ook van Dubai, in Pringelbaai te geniet. Tydens hierdie tydjie het ek die geleentheid gehad om die Moederstad, Stellenbosch-wynlande en die Overberg met twee Britte, ‘n Egiptenaar en dan ook ‘n Egiptiese-Ier te herontdek. Talle ander “like minded’ jolige Suid-Afrikaners het ook die partytjie gejoin.

Unity is Power

‘n Plaaslike 16-sitplek taxi is gehuur om vir die gaste ‘n ware Suid-Afrikaanse ervaring te bied. Die Oos-Kaapse taxi-bestuurder, Mlu, ry vroeg dag talle werkers vanaf Kleinmond na Pringlebaai en is toe die res van die dae tot ons beskikking. Clarence Drive het gesorg vir asemrowende prentjies met elke uittog, en so-ook het die dolfyne en robbe hul verskyning gemaak om die gaste te vermaak.Yskoue Black Labels en Savanna’s het die hitte van die Afrika-son draaglik gemaak. ‘n Playlist wat die klanke van Miriam Makeba, Johnny Clegg, Hugh Masikela en ander veelsydige internasionale kunstenaars bevat het, het elke uitstappie in dié taxi met die woorde ‘Unity is Power’ op sy deur soos ons eie volwaardige musiekvideo laat voel.

Clarence Drive Scenic drive
Die toergroep van Dubai se eerste groep foto van die vakansie by ‘n uitkykpunt op Clarence Drive.

Bientang se Grot, ‘n restuarant geleë tussen die see en die hange van ‘n grot in Hermanus, het die toeriste se verwagtinge oortref. Die energie wat straal vanuit die grot is nie sigbaar nie, maar dit het ‘n onvermydelike uitwerking op die psige en geselligheid van die groep gehad. Die wyn van die Hemel-en-Aarde vallei het die seekos gekomplimenteer en die toeriste het toe met oorgawe begin uitsien na die volgende dag se ekskursie na Delheim, ‘n wynplaas op die R44 naby Stellenbosch.

Soek die mooi in die lewe – en vier dit

Die weduwee van die stigter van die Delheim-wynplaas, Vera Sperling, vertel met nostalgie hoe haar man op die presiese uitkykpunt waar ons gesit het, tydens ‘n skemerkelkie met vriende haar gevra of altans gesê het dat hul gaan trou. Tussendeur die wynproe het ons toergroep van sowat 16 mense ‘n driegangmaaltyd geniet, en saam die lewe gevier. Uiteenlopende en uiters veelsydige mense, maar tog het ons een groot eienskap in gemeen:- ons soek die mooi in die lewe en ons wil,- en gaan, dit vier ongeag wat.

Delheim Wine Farm Tour Group
Groepfoto geneem by Delheim-wynplaas net buite Stellenbosch.

Oujaarsdag het soos elke ander dag, begin met ‘n gesonde ontbyt wat bestaan het uit spek, eiers, roosterbrood en ‘n groot vrugteslaai. Die Egiptiese-Ier is ‘n rugbyspeler en het telkemaal die ‘seconds’ tendens oorskry en ‘thirds’ gaan skep. Die vrugte het die toeriste stomgeslaan omdat dit só smaakvol is. Dis toe dat ek besef het, ons as Suid-Afrikaners aanvaar hierdie en talle ander voorregte, soos die vriendelikheid van ons medemens, as vanselfsprekend.

Rockpools at Pringle Bay

Die sonstrale het kort voor 12 ons liggame gevlek terwyl ons oor die rotse geploeter het na die idiliese rotspoele waar die golwe elke nou-en-dan yskoue water oor ons laat vloei het. Met die sak van die son het die toeriste agter in ‘n ou Landrover, gedoop Livinia (ja soos Liewe Heksie), geklim en die grondpad aangedurf na Plankies, ‘n kroeg by die Hangkliphotel. Dis dieselfde kroeg waar daar elke jaar op die 26ste Desember die Rofjol gehou word – ‘n jol wat sorg vir musiek en die ontmoeting van mense wat jou denkwyses sal “challenge” en jou laat besef daar is meer in die lewe as jou eie verhaal.

Sundowners at Plankies

Lekker wyn en goeie samesyn

Dit was sterk skemer toe die einde van ‘n dekade by die ouerhuis van die gasheer gevier is. Goeie wyn en die samesyn van ‘n wye verskeidenheid mense, van verskeie ouderdomme, industrieë en gelowe het gesorg vir die vorming van herinneringe wat vir dekades soos heuning vir my siel, en elke ander persoon wat die aand daar was, sal wees.

Kort na middernag het die ‘jongklomp’, na Waldo’s gegaan, ‘n plot in Pringlebaai waar ‘n “trance” partytjie besig was om die lug te vul met ritmes wat onbekend was vir my.  Die dansvloer is behoorlik deur ons oorgeneem. Teen 05h00 het ons energievlakke gedaal en dis toe dat ons kaalvoet strand toe gestap het. Die hoofstrand van Pringlebaai is waar ons die nuwejaar met ‘n vroegoggend swem begin het. *Let wel die son is dodelik so vroeg en ek sit steeds met die gevolge daarvan.

Ek het 2020 verwelkom met ope arms, seelug in my longe en dankbaarheid in hart.

Nie bloot omdat ek opgewonde is om ‘n beter weergawe van myself tydens die jaar te ontdek nie, maar omdat ek besef het dat mense, al is ons hoe kompleks, mekaar se lewens hoort aan te vul. My drome en ideale vir 2020 is nie gebasseer op die verbetering van my fiksheid of gesondheid nie, en ook nie noodwendig om suksesse op my “to do list” af te merk nie. Ek wil myself bly, maar ek wil my denkwyse verbreed en ek wil aan diegene in my lewe die geleentheid bied om hul denkwyses ook te herformuleer soos wat die toergroep van Dubai my hart siel, en menswees help vernuwe het.

Happy on the Beach
Die lewe was nog nóóit só lekker nie.
Author

Write A Comment