Begroting vir een, poeding vir ses.

Ek lê met my voete in die lug en kyk my gunsteling sepie in my splinternuwe woonstel. Ek kan nie ophou rond kyk na my nuut gemeubileerde woonstel nie! Wow, my heel eerste woonstel! Maar die vuil wasgoed en my onopgemaakte bed ruk my uit my droomery uit en ek wonder wat my ma sou sê oor die chaos en voordat ek myself kon keer antwoord ek sommer hardop: “Ag mamma dit is my eerste vuil skottelgoed in my eerste woonstel!” Dit voel lekker. My eerste woonstel.

Ek sit die volgende episode van my sepie op terwyl ek strek na die bak popcorn wat ek vir myself as middagete geskiet het. Dit is maklik en goedkoop. As jong werkende is dit my nuwe motto. Partykeer meer goedkoop as maklik. Daar is soveel uitgawes waaraan ek nooit sou dink nie. My selfoon lui, dit kan net een van twee opsies wees; my ma of my ouma. Dit is my ma. Hulle wil môre my nuwe woonstel kom kyk, en sommer oorbly vir ete ook! Ek skarrel rond en probeer vinnig die somme in my kop maak of daar genoeg tyd gaan wees vir opruim, skottelgoed was, stofsuig en dan nog kosmaak ook voor ek haar antwoord. Sy sê dat sy ‘n bak lasagne sal saambring, ek moet net sorg vir poeding.

Ek weet my pa se gunsteling is sjokolade mousse – Ag maar dit is so duur en val glad nie in my nuwe motto nie! Hoeveel gaan al daardie sjokolade, room en fêncy bestanddele my nie kos nie!? Ek wil nie afskeep nie. Ek wil hulle wys ek is nou groot en selfstandig. Ek hoop hulle hou van my plekkie. Ek hoop ek het genoeg eetgerei. Fokus! Ek kort ‘n goedkoop, maar lekker poeding in die volgende 24-uur. Ek soek vinnig op die webwerf vir “goedkoop sjokolade mousse”. Wragtig, dit klink na ‘n wenner! Ek hoop dit is so lekker soos dit lyk. Die duurste bestannddeel is ‘n blikkie Ideal-melk. Laat ek wegspring:

BESTANDDELE

60 ml Vlapoeier
60 ml Kakao
175 ml Suiker
500 ml Melk
15 ml Gelatien
30 ml Koue Water
410 g Ideal-Melk [1 Blik, goed verkoel in yskas]

METODE

Sif die vlapoeier, kakao en suiker saam. Voeg die melk by en klits met ‘n balonklitser tot opgelos. Verhit tot kookpunt. Roer gereeld terwyl die mengsel verhit word tot dit verhit, om klonte te voorkom. Verwyder van hitte.

Sprinkel die droë gelatien oor koue water en wag 2-3 minute todat alles geabsorber is. Roer nou die sponsagtige gelatien by die warm kakaomengsel in en laat behoorlik afkoel.

Klits nou die Ideal-melk tot dubbeld in volume en vou die sjokolademengsel daarby in. Verkoel in yskas.

Dié maklike, vinnig en goedkoop poeding was ‘n treffer! Dit proe lig en luuks, my ouers was omtrent beindruk! Hierdie is beslis ‘n resep wat ek bêre vir die toekoms.

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *