Sewe koue, grys, Europese wintersmaande in Nederland is verby. Teen dié tyd water my mond vir biltong, ‘n vetterige skaaptjoppie en brandewyn. Ek drink nie eers brandewyn nie, maar die gedagte daarvan laat my tuis voel. Ek verlang selfs om in chaotiese lang rye te staan by ATM’s, supermarkte en binnelandse sake. Ek verlang my mense met al sy dinge. Ek mis laat Vrydagaande om die braaivleisvuur en gemaklike Sondagaande met eierbroodjies en tee in my ouerhuis. Ek mis die warm son en om in Afrikaans vir my rekening te vra in my gunsteling restaurant.

Die somer breek aan!

Dit is Julie in Europa. Die warmste maand in Nederand, die koudste in Suid-Afrika. Ons gryp die “warm” 32-grade dag met beide hande aan. Ons spring op die eerste trein, strand toe. Sambreel onder die arm, rugsak op die rug en groot genot in my hart. Die gevoel op die strand is anders. Lekker, maar anders. Mense word toegelaat om drankies te geniet, sonder boetes, top-loos te tan sonder dat mense snaaks dink. Die branders is rustiger en die lig minder skerp. Dit is lekker, maar tog anders. Anders waaraan ek al vir 22 jaar gewoond is in Suid-Afrika.

blonde-girl-sitting-on-beach

Girls with ice cream on beach

My vel het maande laas son gesien. Op die oomblik floreer ek op vitamien D en Desember-vakansie gevoel. Al wat kort om die dag af te sluit is ‘n braai. Is daar ooit braaivleis en hout in Nederland se supermarkte? “Julle, kom ons braai?,” sê ek hardop vir die twee Suid-Afrikaanse meisies wat langs my lê en ook maande se verlore son probeer inhaal. Ons skud die sand uit ons handdoeke, trek ons goedkoop strandplakkies aan en soek die naaste supermark op Google-maps.

Ons moet ons inkopies doen voor ons op die trein huis toe spring. Dirk van den Broek lees die groot bord bo die supermark se deur. Dit is die naaste aan ‘n Spar wat ons gaan kry. Ons loop op en af in die rakke opsoek na soortgelyke Suid-Afrikaanse bestanddele, slaaie en braaivleis vir ons braai. In die rooi winkelmandjie lê daar, Van Wijngaarden Zaanse mayonaise, 6 los aartappels, 6 Spek-lappies, ‘n pak gerookte kaaswors en baie dun skaap-repies, wat eintlik vir kook bedoel is. Dis die naaste wat ons aan die bekende aartappelslaai-skaaptjops-en-wors-braai gaan kom. Geen hout is beskikbaar, slegs klein 1 Kg pakke houtskool en dun vuuraansteek houtjies.

Ons deel die inkopies op en prop dit in ons rugsakke. Met rooi gebrande lywe, windverwaaide hare en sanderige voete maak ons gereed vir ons treinrit huis toe. Die trein is warm en oorvol, almal wou die somersdag by die see spandeer. Na 27 minute klim ons af by by die treinstasie en stap opgewonde huistoe om die vuur aan te steek.

Kom ons braai!

Die een soek ‘n Afrikaanse speellys op YouTube, terwyl die ander die aartappels kook vir die aartappelslaai. Ek verlang na die huis. Ek verlang na groot braaiplekke met Simba skyfies en die reuk van braaivleisvuur in my klere. Ek verlang goeie Afrikaanse geselskap met oop vlaktes en die warm Afrika-sonsak. Ons nagemaakte Suid-Afrikaanse braai is ‘n sukses maar, daar is iets wat kort. Dit is nie dieselfde nie.

Ek besef dit is nie die vleis, of die hout of die musiek wat ‘n braai suksesvol maak nie. Dit is die mense, die kultuur en die taal van ons mooi land wat ‘n braai ‘n braai maak. Dit is lekker om voelers uit te steek en ander kulture te ervaar, maar daar is niks beter as om ‘n vuurtjie op eie bodem aan te steek nie.

Author

Hi, I'm Leandra, a girl from the South African countryside with some well-worn vellies and a love for hiking, camping and indulging in life outdoors. In my spare time you can find me taking photos, cooking and spending time with my friends and family.

Write A Comment