Die Heuwels Fantasties: 'n Nostalgiese 2021 | 9Lives
Reading Time: 3 min

In hierdie vreemde tyd waarin ons nou onsself bevind, gryp ons na enige oomblik, hetsy klein of groot, wat jou net weer normaal laat voel. Alhoewel normaal soos ‘n vreemdeling lyk, sal die verlangse gedagte van ‘n bekende gesig altyd terugstaar. Die oomblik toe ek my oë sluit en die bekende klanke van Die Heuwels Fantasties op my ore val, sien ek weer die bekende gesig van my voor-Corona lewe vir my terug glimlag. 

Die alternatiewe Afrikaanse musiekgroep, Die Heuwels Fantasties, het vandeesweek hul 6de studio album, 2021, bekendgestel. Die album bestaan uit 15 snitte met verskeie kunstenaars soos Francois van Coke, Early B, Arno Carstens en Johnny de Ridder wat deel vorm van hierdie nostalgiese avontuur. 

Die album is die perfekte kombinasie van oud en nuut en bly sterk in hul ikoniese sync-pop klank wat al so deel geword het van die Afrikaanse musiekwêreld. 

Jy voel dadelik die bekende energie wat jy gevoel het die oomblik toe jy vir die eerste keer Wilder as die Wildtuin geluister het. Hoe spyt is ek nou ek het die sticker wat saam met daardie CD gekom het vir my 15-jarige kêrel gegee om op sy Playstation te plak.

2021 is op die perfekte tyd bekendgestel. In ‘n onseker tyd waar ons terugdink aan die dinge wat ons verlang, wat ons meer moes waardeer en of ons weer die buitekant van ons kamerrmure sal sien,laat hierdie album jou verlang en gee jou hoop. Dit laat jou huil en dit laat jou glimlag. Dit laat jou dans terwyl jou pynappelbier gis en dit laat jou kontak maak met ou vriende. 

Die album skop af met “Mis Oor Die See” saam met Arno Carstens. Hierdie liedjie is presies hoe ek my nostalgiese avontuur wil afskop. Dit is deurdrenk met die melodieë waarvoor Die Heuwels Fantasties bekend staan.

“Ons Moet Leef” gee die toon aan vir die res van die album, wat al die beste dele van elektroniese pop en sagte rock omhels. 

Die tong-in-die-kies lirieke van “Naweek” saam met Jack Parow is definitief die partytjieliedjie op die album en vol samesyn. ‘n Dag in die son met ‘n tjoppie op die vuur en ‘n paar dagdronk oë wat vir jou loer. 

“Ek Mis Jou” en “Lieg Vir My” sal jou met ‘n gevoel van mense-verlange agterlaat. Dit is twee liedjies wat met soveel craftmanship aanmekaar gesit is dat jy vir lank aan die lirieke gaan kou. 

Een van my hoogtepunte op die album is “Kom Na My Toe” saam met Johnny de Ridder. Maar enige iets met Johnny de Ridder op ‘n stadige klavier is ‘n hoogtepunt. Hierdie snit is Die Heuwels Fantasties in hul eenvoudigste vorm.

Die album beweeg deur ‘n verskeidenheid emosies en gaan jou laat stil sit vir ‘n volle uur soos wat jy deur die emosies gaan. 

“Jy Stel My Teleur” begin met sagte klanke, harde woorde en bou op tot ‘n breekpunt van akkoorde en melodieë wat saam vloei. 

2021 sluit af met ‘n live weergawe van “Leja” by Francois van Coke en Vriende in Pretoria laasjaar. Hierdie liedjie was die beste bekende gesig wat ek kon teëkom op die album. Ek was terug gevat na die gevoel van om in gehoor te staan, die nabyheid van vriende almal bymekaar vir ‘n laaste keer in die Jakarandastad. Een van die beste kitaarspele op die album wat my altyd sal laat met hoendervleis en ‘n halwe glimlag op my gesig. 

2021 los my met trane. Nie net oor die gevoel van samesyn wat ek vergeet het, of die bekende gesigte wat nou soos vreemdelinge vir my staar nie, maar ook met trane vol hoop dat ons weer saam gaan sing in die jaar wat kom. 

Ek sal weer 13 jaar wag vir ‘n album, as dit beteken ek gaan so ‘n warm energie voel as die laaste note wegvaag. 

Foto vergunning elbroide.com

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

1 Comment

Write A Comment