Reading Time: 3 min

Die Heuwels Fantasties se agste ateljee album, getiteld Volume is deurdrenk met akoestiese treffers, pop-punk klanke, en synth-ballades deurweef met electro-folk. Dis ‘n uitsonderlike musiek ervaring eg aan Die Heuwels Fantasties.

Ek het in geen kronologiese volgorde na Volume begin luister en my musiek ervaring het met die liedjie, “Bellville” begin. Soos hoofsanger, Pierre Greeff, se bekende stem op my ore geval het, het ek terug gedink aan my eerste ontmoeting met Belville, die dorpie in die noordelike voorstede van Kaapstad. 

Dit was 2018. 

Ek het sopas nes geskrop in Stellenbosch. Een oggend, raak ek en drie mede-Potchefstromers wakker in ‘n half uitepakte woonstel in Belville. Op die einste laaste oggend van 2018, besluit ons ons gaan die jaar in sy moer stuur deur nuwe tattoo’s te kry. Met moeë lywe wat nog soos whiskey ruik, het Belville ons kom haal. 

Dan moet hy my in Bellville kom haal.”

Vir kranige Potchefstromers wat mens geword het in Die Mystic Boer was dit net gepas om die avontuur in Belville, die huis van ons helde, mee te maak.

Die eerste lyf het reggestaan met die lirieke “The Dog Days Are Over” van Florence & the Machine. Die liedjie was gepas; ‘n herdenking aan die tyd toe hy ten volle sy seksualiteit kon uitleef. Dit was nie meer weggesteek binne groen truie en ou kerkgeboue nie. Nou lewe die tattoo voort in Korea. 

“Belville” begin met die nostalgie van jong werkendes wat tussen die berge baljaar en sluit af met heimwee aangevul met sagte akoestiese kitaar en rustige melodieë.

Volgende op my nie-kronologiese musiek avontuur is die nuwe benadering tot “Hardloop Weg” vanaf Herverbeel wat vrygestel was binne die nasionale inperking in 2020. Met “Hardloop Weg 2.0” kyk Die Heuwels Fantasties met nuwe oë na die verlede.  Met ‘n elektriese kitaar en die melankoliese melodie wat opbou tot dit ontplof, laat dit my wonder hoe gaan dit met my vriend met die Florence & the Machine tattoo wat liefde gevind het in die vreemde.

Wanneer Mercury in Retrograde is, steek die verlede soms weer sy kop uit. Net so kom maak die verlede weer ‘n draai en ek groet ou vriende. Met Volume groet ek toe vir Spoegwolf in “Eggo”. 

“Eggo” is ‘n karige ballade vir onsekere tye. Dit laat my wonder of my tattoo van Belville net ‘n eggo is. ‘n Herhaling van ‘n klank wat lank reeds stilgemaak is. Die subtiele klavier en tjello skep asemhalingsruimte vir Greeff en Danie du Toit (Reënwolf) om kwesbaar te wees. Die emosie is aantasbaar.

Soos mens die verlede groet, blaas “Ek werk vir ‘n Lewe” ‘n ander tipe gevoel in jou in. Die energie van “Werk vir ‘n Lewe” is aansteeklik en Blink-182 en Sum 41 se invloed loop sterk deur die snit. 

“Ek skakel af as mense met my praat. Wag vir die jaar om verby te gaan. Die rede vir soveel mense om skool te gaan gee in Korea of te kom en gaan.”

Met dié lirieke wonder ek of Kennedy en Greeff ook bekend is met ‘n whiskey lyf wat ingekleur is met “relatable” woorde. 

Dis nou 3 jaar sedert ek die tattoo gekry het en ek wonder hoekom het die een ingekleurde lyf gekom en gegaan. 

“Nee okay fine, eks net ‘n bietjie deurmekaar en ‘n bietjie hartseer.”

Dalk het hy nou al teen die tyd bietjie bedaar. 

Hierdie is verseker die beste snit op die album. Met kitaar, klavier, perkussie en stemme wat op ‘n onbekende manier bymekaar gevoeg is, kyk mens met vars, unieke oë na die lewe, maar steeds met die Die Heuwels Fantasties bril op. 

Ek sluit my nostalgiese avontuur af met “Hoor jy my”. Electro-folk en sterk popklanke groet my saam met die stem van Hunter Kennedy. Hierdie is die snit waarmee ek deur die Huegenote tonnel ry en ek hoop die ander twee ingekleurde lywe hoor my. 

Dit is 2021.

Tweede jaar in die pandemie. Twee albums later. Hy bly steeds in Korea en die ontvangs was sleg.

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment