Die Liedjieboer en die Sonvanger: Die impak van Anton Goosen en Valiant Swart | 9Lives
Reading Time: 3 min

Ek was bevoorreg genoeg om groot te kon word in ‘n huis waar ek kennis gemaak het met Anton Goosen en Valiant Swart van ‘n jong ouderdom af. Alhoewel my ma nie kan onthou wat my eerste woorde was nie, is ek redelik seker dit was “die Boy van die Suburbs”. 

Daarom het ek gespring op die geleentheid om die Opelug Musiek en Pinotage Konsert by Neethlingshof by te woon. Die konsert het op 5 Maart  plaasgevind. Liedjieboer en die Sonvanger het die verhoog met Schalk Joubert en Viljoen Retief, twee musikante wat kan sterk staan in eie reg, gedeel. 

Nie net het hierdie kunstenaars ‘n impak op my gehad nie, maar ek sal altyd by die gedagte staan dat hulle musiek ‘n impak op die hele Afrikaanse musiekbedryf gehad het – nie net in die tagtiger jare nie, maar ook tot op hede. 

Anton Goosen en Valiant Swart

Die legendariese liedjieskrywer en musikant, Anton Goosen, het op 73-jarige ouderdom dit reggekry om oud en jonk in Stellenbosch bymekaar te bring met liedjies soos Klein bietjie wyn en Pampoene op die dak.  Ek was nog skaars ‘n gedagte toe beide dié liedjies die lig gesien het in 1993. ‘n Vriend wat saam met my die konsert bygewoon het was maar net ‘n haasbek 8-jarige seun en meeste van die ander bywoners het, tot my jaloesie, dit eerstehands ervaar. Baby Boomers, Millennials en alles tussenin kon egter op 5 Maart uit een mond saam sing. Dit is die krag wat opgesluit word in musiek – om mense van verskillende agtergronde, verskillende ouderdomme en verskillende haarstyle bymekaar te bring met een doel voor oë: om een te word met die Boy van die Suburbs en Jantjie.

 Terwyl die laaste note van Kruidjie roer my nie nog in die hange van die berge gesweef het, het die bekende note van Sonvanger op die gehoor se ore geval. Ek het die eerste keer die rock musikant en liedjieskrywer, Valiant Swart, in die TV program Song vir Katryn teëgekom. Ek het wel nie die program gekyk nie, want ek was op daardie stadium 17 jaar oud en het net een kanaal geken, MK 89. Maar natuurlik in die huis waarin ek groot geword het, het Song vir Katryn elke Donderdagaand op ‘n redelike hoë volume gespeel en so het ek vir Katryn herken tussen die bekende note van Valiant se kitaar.

 Tesame met Anton Goosen het Valiant Swart die gehoor op hul voete gehad met die bekende woorde van liedjies soos Die Mystic Boer en Eyeshadow. Soos wat ek ‘n yskoue glas Neethlingshof Chenin Blanc weggesluk het, het my brein begin wegdwaal. Anton Goosen en Valiant Swart was die spreekbuis vir my ouers, net soos Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band. Die negentiger jare het aangebreek en die Suid Afrikaanse musiekbedryf was deurdrenk met musikante soos Springbok Nude Girls, Just Jinger en Wonderboom. Weereens was ek nog ‘n baba toe dié manne op verhoeë rondgespring het, maar hul musiek het ‘n impak op my en dié voor my gehad.

 Daarna het die 00s ons gegroet met Fokofpolisiekar as die spreekbuis. My generasie se spreekbuis. Dit is duidelik in die musiek van groepe soos Fokofpolisiekar, Foto na Dans en Ef-El dat hulle inspirasie getap het vanuit Anton Goosen, Valiant Swart en Springbok Nude Girls.

My Chenin Blanc was klaar en die liedjieboer en die sonvanger het ons gegroet. Met ‘n warm gevoel (nie as gevolg van die wyn nie, ek belowe) het ek gewonder, wie is die nuwe generasie – die sogenaamde Gen Z – se Liedjieboer en Bende? 

Hou dié spasie dop vir moontlike antwoorde…

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment