Ek pak 'n piekniekmandjie vir twee, onder R200 | 9Lives
Reading Time: 3 min

Vanaf ‘n jong ouderdom, was ek versot op piekniek hou. Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie saam met my ma op ons sitkamermat op reënerige dae piekniek gehou het. Later was my gunsteling tydverdryf piekniek by die eenddam saam met die bure se dogter.

Hierdie piekniek-liefde het voort geleef in my hoërskool koshuisdae. Woensdae, op dorpsdag, het ons sjokelade melkies en oliebolle by die naaste winkel gekry en piekniek gehou op die rugbyveld. Met elke “going away” geleentheid of verjaarsdag van vriendinne het ons piekniek gehou met sjokolade melkies en oliebolle.

Dié Valentynsdag pak ek weer ‘n piekniekmandjie vir twee, vir net onder R200! Ek sit van my gunsteling peuselhappies in die mandjie en slaan ‘n paar maklike vingerhappies aanmekaar.

piekniekmandjie-idees

Hiér is my mandjie:

Ek het individuele tortilla-wraps gemaak vir die hol-kol. Dis gevul met oorskiet biefstuk van gisteraand se braai, baba spinasieblare, tamatie en fetakaas. Ek het dit in bruin geskenkpapier toegedraai en met ‘n lindjie versier – kyk hoe mooi! Dié twee wraps kos my net minder as R15 per wrap.

tortilla-wraps

Ek het twee vlesse van die rak afgestof en ‘n heerlike vars slaai daarin gemaak. Dis perfek om te verpak, verkoel en vervoer. Ek het die vlesse gevul met cous-cous, opgekookte beet, rocket-blare, balsamiese asyn, growwe peper en fetakaas. My twee slaai-vlessies het my omtrent R10 elk uitgewerk, met hope cous-cous en fetakaas oor vir ‘n volgende gereg.

slaai-in-vlesse

Om aan te peusel, het ek klein tamaties en ‘n pak soutkoekies gekoop, en biltong truffels daarby gemaak! Jy kan jou eie biltongtruffels maak deur een bakkie maaskaas, 200g fyn spek, gegeurde soutkoekies en fyn biltong saam te meng. Rol die mengsel dan in balletjies en weer in die orige biltong – so maklik soos dit! Dié balletjies kos niks meer as R60 om te maak nie.

Vir my as soettand, is nagereg net so belangrik soos die hoofgereg! Ek het ‘n lekker karamel springmielies resep gekry, en heerlike gekarameliseerde popcorn gemaak. Die soet springmielies se bestanddele was altesaam R25.

karamel-springmielies

Laaste, maar nie die minste nie, is my geliefkoosde suurlemoenblokkies! Krakerig en soet, maar met ‘n suur nasmaak is my gunsteling eienskap van dié blokkies. Dis vinnig om aanmekaar te slaan en perfek vir pieknieks, skool entrepteneursdae of selfs as teetyd-lekkertes – hou 9Lives dop vir die resep! Die suurlemoenblokkies het R30 vir twee persone gekos.

My mandjie is gepak! Die oorblywende geld het ek spandeer op vars vrugte en ietsie te drinke. Al wat nou oor is, is om vir ‘n plekkie onder die bome of langs die rivier te soek en jou piekniek vir twee te geniet.

Wat is in joú piekniekmandjie die Valentynsdag? Laat weet my gerus. 

Author

Write A Comment