“Gooi nou die meel by die gesmelte botter. Roer bietjie-vir bietjie melk by die meel-balletjie tot dit ‘n sousie begin maak.”

Skree my ma uit haar kamer omtrent 12 jaar gelede terwyl sy haar grimering aansit vir die landbouverenigingvergadering waarvoor sy reeds laat is.

“Kyk gou vinnig watter vleis het ons in die vrieskas om by die pasta te gooi… Die blikkie tuna op die rak kan ook werk!”

Angsbevange, maar steeds opgewonde hol ek as ‘n 11 jarige dogtertjie in die kombuis rond, besig om my eerste pastagereg te maak, stap-vir-stap volgens my ma se instruksies.

“As die sous borrels maak moet jy die plaat afsit, sussie!”

Met ‘n breë glimlag sit ek my eerste pastagereg voor met gebraaide spekblokkies en baie kaas. Aand op aand daarna dring ek daarop aan om aandete voor te berei of tenminste te help met die moeiliker geregte.

Omdat ons meer as 50 kilometer van die naaste groot dorp gebly het moes ek leer om uit ons koskas te kook. Daar was nie ‘n winkel vir vars produkte en kruie nie en het ek geleer om smaaklike etes voor te berei met basiese bestanddele wat reeds in die huis is.

Gevriesde vleis, nie-bederfbare produkte wat pasta,blikkieskos en groente soos pampoen en aartappels insluit, wat nie vinnig sleg raak nie, was gewoonlik die basis van die resep.

Ek onthou selfs ‘n Kersdag of twee wat ons feeskos uit basiese bestanddele moes maak en my ma uit haar selfgemaakte knip-en-plak resepteboek hierdie mayonnaise sjokoladekoek gemaak het, hiér volg die resep:

Bestanddele:

500 ml Koekmeel
250 ml Suiker
10 ml Bakpoeier
5 ml Vanillageursel
125 ml Kakao Poeier
250 ml Mayonnaise
250 ml Water

mayonnaise-koek-resep

Metode:

Stel die oond op 180°C en spuit die koekpan met kleefvrye sproei.
Meng al die droë bestanddele in ‘n mengbak.

mayonnaise-koek-resep
In ‘n ander mengbak meng die water en mayonnaise goed saam. Vou die droë bestanddele by die mayonnaise en water in.

mayonnaise-koek-resep
Gooi in die gesmeerde koekpan en bak vir 40 minute of tot ‘n toetspen skoon uit kom.
Hierdié koek is op sy lekkerste die volgende dag en self ‘n paar dae daarna.

mayonnaise-koek-resep

Het jy ook sulke resepte wat uit jou ma se handgeskrewe kookboeke kom en uit jou koskas gemaak kan word?

Author

Hi, I'm Leandra, a girl from the South African countryside with some well-worn vellies and a love for hiking, camping and indulging in life outdoors. In my spare time you can find me taking photos, cooking and spending time with my friends and family.

2 Comments

Write A Comment