‘n Vrydag is altyd ‘n goeie dag, maar hierdie Vrydag is ‘n besonderse goeie Vrydag. Hoekom? Dit is ‘n week voor payday, daar was ‘n vet partytjie by Sun Arena in die vorm van Francois van Coke en Vriende en die god van Afrikaanse rock het sy 3de solo-album, Dagdrome in Suburbia, vrygestel op alle digitale platforms. 

Dagdrome in Suburbia skop af met die bekende stem van oom Riaan Cruywagen “…en vandag in die nuus is rugby, weer en die openbaring”. So toevallig met die Bokke wat die naweek in die semi finaal van die Rugby Wêreldbeker uitdraf, Gauteng se 36 grade wat die sweet van my gesig af laat drup en die openbaring? Wel, die openbaring is opgesluit in hierdie 11-snit musiek explosion.

Jy kla oor die toestand van ons land

Die rock- en punk-klanke waarvoor ons tog so lief is bliksem jou in; “Ek Probleem” en jy groet weer Die Gevaar soos ‘n ou vriend. Maar soos ek my ou vriende van Die Gevaar groet, groet die eerste deel van die openbaring in hierdie song. Francois het probeer om die regte ding te doen en verseker nie dit opgefok nie. Dit is ‘n song oor frustrasies en God en om sin te maak van die wêreld waarin ons, onsself bevind. Die “ek is kwaad vir die wêreld,” lirieke vanuit die Fokofpolisiekar dae toe ‘n vliegtuig nog op Tygerberg geval het is sterk te sien in hierdie song.

Ek was so opgesweep in “Ek Probleem” en toe moer ek weer af, plat tot op die vloer met “As ek kon.” ‘n Rou, eerlike ballade val op jou ore en soos DIE Johnny de Ridder die klavier met soveel respek speel voel hierdie song vir my soos die rustigheid na ‘n vertoning as Francois, die man en pa, by sy huis instap. Die stilte na die rock-en-roll-storm van sold out shows.

Die Bende eet nou by die Spur

Dit is lekker om te hoor die familie is weer bymekaar in “Daarsy Boys” saam met meneer Hunter Kennedy self. Die twee anargiste van die burbs en ‘n kitaarsolo vanuit die rigting van Jedd Kossew gaan aanhangers op tafels laat dans. 

Dagdrome in Suburbia is die storie van Francois van Coke. Die rock-en-roll seun wat grootgeword het in die suburbs van Bellville, drome gedroom het oor ‘n music scene wat die draaipunt vir die Afrikaanse musiekbedryf was. Alhoewel Francois, die verwarde tiener van die pastorie grootgeword het, sien hy die lewe en Suid-Afrtika nogsteeds dieselfde. Ons is nog kwaad vir die wêreld en vir God en onseker oor ons land. 

“Bomskok” is een van daardie Van Coke songs wat my weer laat voel soos Antibiotika en Brand Suid-Afrika. Met lirieke soos:

Gevangene, 

Pappa sluk trane as die nuus opkom

By die robot hang die werkendes.

Bomskok, 

Nee fok ons kan net nie wen nie.

En nog voordat die lirieke by jou insink, besef jy dat jy nie verloor nie. Want die uwe, die meester Jedd Kossew speel ‘n kitaar solo met soveel riffs dat jy self aan bomskok lei vir ‘n rukkie. Sheldon Yoko op dromme is ook ‘n tikkende tydbom wat met graagte ontplof en jou laat met ‘n bietjie skok. 

Kerk, trou en kinders kry

Vir ‘n oomblik het ek weer gevoel soos die verwarde post-Aparthied tiener tot die klanke van “In die Oomblik” begin, besef ek dat Francois grootgeword het, nes ek en al sy aanhangers. Ja, die jonger generasie staan ook voor ‘n stage, maar wat ek die meeste waardeer van hierdie album is dat nes Francois, die eerste aanhangers wat daar was in die dae van kombi’s en boere in Nelspruit, het hulle ook grootgeword en “kerk, trou en kinders kry” het deel gevorm van hul daaglikse lewe. 

Die openbaring van Dagdrome in Suburbia sluit af met ‘n love song saam met The Voice wenner, Tasche Burger. En al wat ek kan dink as ek hierdie luister is: Die rocker in die begin van die openbaring is die wêreld s’n, maar die man aan die einde van die openbaring is by die huis.

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment