Griekwastad film: Nie vir sensitiewe kykers | 9Lives
Reading Time: 3 min

Net voor President Ramaphosa ‘n nasionale noodtoestand verklaar het weens die Covid-19 virus, woon die 9Lives-span ‘n vroeë kykie na die splinternuwe film, Griekwastad, regie deur Jozua Malherbe, by. Gebeure rondom die virus taan in die gesig van wat daardie aand op Naauwhoek afgespeel het. Wat volg is ‘n resensie van die Griekwastad film wat deo volente in Junie 2020 in teaters landswyd vrygestel gaan word.

Synopsis

In 2012 word Deon, Christel en Marthelle Steenkamp koudbloedig vermoor op die familie plaas, Naauwhoek. Die Griekwastad film vertel die verhaal van soeke na die waarheid rondom hierdie moorde, hoe moeilik en onstellend dit ookal mag wees.

Soos reeds genoem is die regie behartig deur Jozua Malherbe (van Wolwedans in die Skemer, Fluiters en Donkerland faam), wat ook vir die kinematografie verantwoordelik was. Die draaiboek is geskryf deur Tertius Kapp en is gebaseer op die joernalis, Jacques Steenkamp, se boek The Griekwastad Murders; The Crime That Shook South Africa.

Arnold Vosloo, ‘n Suid-Afrikaanse akteur wat lank reeds in Hollywood bekend is vir films en reekse soos The Mummy, Bones, Chuck en 24, vertolk die rol van die hoofspeurder, Dick de Waal. Hy verleen ‘n statigheid aan die rol wat baie gepas is, siende dat hy op ‘n reis is wat grootliks sy onskuld gaan kos.

Die tienerseun, Don Steenkamp, word vertolk deur Alex van Dyk (van Stopers faam). Talle koerante het destyds berig oor Don se emosielose toestand en Alex pak die rol aan met dieselfde ongemaklike blik waarvoor Don bekend geword het. Die sussie Marthella, word gespeel deur die aktrise Jane de Wet, wat ook nou in Moffie te sien is.

Die kyk werd?

In 2012 was ek ‘n tweedejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, my broer ‘n matrikulant by Grey Kollege. Ek onthou presies die oomblik toe ons almal ‘n sms ontvang het met nuus van die vermeende plaasmoord net buite Griekwastad. Ek onthou so goed die Rapport se beriggewing oor die uitleg van die plaashuis en die uiteindelike gevolgtrekking dat Don Steenkamp, as moordenaar, die enigste logiese gevolgtrekking is.

Toe ek hoor daar kom ‘n filmverwerking van hierdie gebeure, was ek bekommerd. Uit wie se perspektief gaan hierdie vertel word? Wie se kant gaan die regisseur, en by implikasie, die kamera kies? Om ‘n retrospektiewe storie te vertel, terwyl die mense van wie vertel word, steeds lewe en steeds hiermee worstel vereis sensitiwiteit – sou die film gemaak kon word met al hierdie in ag genome?

Ek was verniet bekommerd. Die film neem ‘n dokumentêre aanslag op die gebeure. Geen karakter tree uit hierdie visuele vertelling as oorwinnaar nie. Jy, as kyker, is bloot ‘n vlieg op die muur. Hierdie tipe interpretasie verseker dat jou simpatie nie deur die regisseur misplaas word nie, maar eerder oopgelos word vir jou eie interpretasie en my voorspelling is dat meeste van die kykers gaan worstel met hierdie moeilike temas, nes Dick.

Wat ek ook waardeer is dat die gebeure nie versag word om gehore te paai nie. Die film staan nie terug om die gravitas van die moorde aan die kyker bekend te maak nie. Daar word ook nie saggies met die moeiliker temas van verkragting en satanisme omgegaan nie, dit is feitelik, maar beslis nie a-emosioneel nie.

Die film het vir my trekke na van my gunsteling oorsese “indie films”. Die gebruik van kleure en interresante kamera invalshoeke is veral beduidend. Kyk gerus uit vir een van my gunsteling tonele wat afspeel in die seunsskool waar die kamera ‘n baie lae skoot van Dick neem wat totaal in skadu’s gehul is en Don wat nader kom.

Maar beslis een van die mees onvergeetlike elemente van hierdie film is die klankbaan. Vertrou my, hierdie film moet jy met die volume op maksimum kyk. Tydens die vertoning, wat by Woordfees plaasgevind het, kon die gehoor vir Malherbe ‘n paar vrae vra en hier het hy beklemtoon dat ten spyte van ‘n klein begroting hy die klanke spesifiek vir die film laat opneem het en dat hy baie pertinent elemente van “heavy metal” in die film wou he. Dus, beskryf hy die film, so treffend, as “handgemaak”.

Die Griekwastad film word eersdaags in teaters vrygestel.

Lokprent:

Hooffoto danksy IMDB.

Lus vir nog filminhoud? Kyk hier na die 9Lives 2020 filmklub.

What did you think of the show?

Click on a star to rate it!

Average rating 0 / 5. Vote count: 0

No votes so far! Be the first to rate.

Author

Free State-girl, living in Stellenbosch. Love to explore small towns, read in Afrikaans and everything pop-culture. My favourite yoga move is 'The Pigeon' and one day I'd like to own my own vintage cinema.

Write A Comment