Reading Time: 3 min

Alternatiewe Afrikaanse musiekgroep, Die Heuwels Fantasties, is terug met hul 7de studio album, Herverbeel. Die album bestaan uit 18 snitte van jou gunsteling liedjies met nuwe geure en verskeie kunstenaars soos TRESOR, Margot Rothman, Laudo Liebenberg en Ampie.

Herverbeel is soos om ‘n nuwe uitgawe van Harry Potter oop te maak. Die storie is bekend, maar jy tel iets nuut op of sien iets wat jy dalk voorheen misgelees het. Die week merk ‘n jaar sedert ek by ‘n lewendige vertoning was en is dit nou belangriker as ooit om met nuwe oë na die bekende stories te kyk. 

Die album bestaan uit ou gunstelinge soos “Leja”, “Mejuffrou Sonneblom” en “Beloofde Land”. 

Die album skop af met ‘n nuwe liedjie uit die pen van voorman, Pierre Greeff, getitled “Hardloop Weg”. Daar is nie ‘n beter manier om die album mee af te skop nie; met die eerste melodie hardloop jy weg na ‘n tyd vol danspartytjies en die roekeloosheid van ‘n lewe pre-lockdown. “Hardloop weg” is  80s nostalgie, met popklanke en dromerige lirieke. 

In ‘n tyd waar ons gedwing word om die lewe uit ‘n nuwe perspektief te sien, is dit gepas om die bekende stories te vertel uit nuwe monde. “Shangri-La” in samewerking met TRESOR gee die bekende liedjie ‘n nuwe gevoel vol elektroniese popklanke en ‘n African twist

“Mejuffrou Sonneblom” sal vir eens en vir altyd een van die mees nostalgiese liedjies vir my wees; die gevoel van heimwee wat die musiekvideo ontlok laat jou verlang na lewendige vertonings. Margot Rothman, staan in haar eie reg sterk langs Hunter Kennedy, Pierre Greeff, Sheldon Yoko, Fred den Hartog en Hiram Koopman. Die weergawe is ‘n stripped down weergawe van die liedjie wat eens soos ‘n partytjie gevoel het, maar nou voel soos die verlangse herinnering van ‘n partytjie onder die son. 

Die verwerking van “Doodgewone Aand” is die elektroniese pop en sagte rock waarvoor Die Heuwels Fantasties bekend is. Ek hoor my hart klop saam met new kid on the block, Chxrl. 

Dit begin met die heimwee van dans tussen die berge van Kaapstad en dan word jy gedwing om stil te sit met die instrumentele verwerking en orkesvertolking van “Lieg net vir my”, “Oorlewing 101” en ‘n akoestiese weegawe van “Sy” saam met Danny Smoke.

Nou dat jy stilgestaan het vir ‘n rukkie, kan jy ‘n slow jam geniet in die vorm van “Ons Moet Leef” saam met Ampie. Ek dink vir seker terug na aande in Potchefstroom se Mystic Boer. 

Die akoestiese weergawe van “Leja” wat met sagte kitaarkankle begin, begroet met Hiram Koopman op trompet en die bekende rouheid in Greeff se stem, was nog nooit so mooi nie. Hierdie weergawe van “Leja” het ‘n nuwe perspektief geplaas op die groep wat al soos ou bekendes saam jou dans.

Net as jy dink dit kan nie beter raak nie, hoor jy die uwe Hunter Kennedy se stem in die onbekende, maar tog so bekende, “Tyd”. “Tyd” was die eerste liedjie waarin ek Hunter Kennedy beleef het as meer as net die basspeler en liriekskrywer op die Vanfokkentasties album in die dae toe MK nog ‘n ding was. En net so is MK weer terug in my huis in die hartjie van Stellenbosch.

Ek was nog altyd van mening dat kuns in enige vorm (van Harry Potter boeke, Schitt’s Creek en jou gunsteling Bob Dylan-liedjie) die vermoë het om met elke luister iets anders na vore te bring. Waar jy jouself in die lewe bevind en ook saam met wie, laat enige vorm van kuns anders voel. 

Herverbeel is daardie album vol bekende stories en heimwee met ‘n nuwe baadjie aan, want fok tog, ons het dit so nodig.

Foto vergunning: samusicnews.co.za

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment