Geskenkegids: Kersfees in die Kaap | Gift Guides | 9Lives
Reading Time: 4 min

Moet jy dié Kersfees geskenke koop vir iemand wat dink dit is ‘n buitemuurse aktiwiteit om wyn te drink op die stoep? Of dalk vir iemand wat gaan probeer om elke toeriste aantreklikheid in die Kaap in te pas in een Desember-vakansie? Dalk dink die persoon aan Anzél in die Boland as die plaasvervanger vir Pasella. Indien jy “ja” geantwoord het op een van die scenario’s is jy op die regte plek, want ek gaan hierdie Desember Kersgeskenkinkopies vir jou baie maklik maak. Ek assosieer self met die bo-genoemde scenario’s en indien jy ook doen, het ek vir ons ‘n paar geskenke uitgesoek. Ek noem hierdie die “Kersfees in die Kaap geskenkegids en dit is presies wat jy gaan nodig hê om al die avonture aan te durf. 

1971 Ray-Ban Square

R 1 909,00 op Takealot.com 

Dit is ‘n feit soos ‘n koei dat ‘n ordentlike sonbril nie net ‘n luuksheid is nie, maar ook ‘n belegging vir jou jeugdige voorkoms en om jou oë te beskerm. Vir iemand met sensitiewe oë (soos ek) en vir mense wat baie tyd in die son spandeer is dit belangrik om ‘n sonbril te kies wat jou oë beskerm teen stremming en die refleksie van lig. Sonbrille van lae kwaliteit kan dikwels meer skade aanrig as goed doen, dus is dit belangrik om vooraf jou huiswerk goed te doen.

Ray-Ban is ‘n veilige opsie vir iemand wat vir die eerste keer in ‘n sonbril belê, omdat ‘n mens verseker is van die kwaliteit wat jy gaan kry. Ek het  hulle 1971-reghoekige vorm gekies, in die skakering “gold-green classic” wat ikonies is aan die handelsmerk. Die vorm is ook ‘n tydlose variant van Ray-Ban se oorspronklike “aviator” vorm. 

Kersfees in die Kaap Geskenkegids
Ray-Ban 1971 Square

Urban Beach Clothing se Karoo-hoed in Room-kleur

R 299,00 op www.urbansupply.co.za

Kom ons praat oor die Karoo hoed van Urban Beach Clothing terwyl ons op die onderwerp van sonbeskerming is. Hierdie is weereens die perfekte Kersfeesgeskenk vir iemand wat baie tyd in die son spandeer. Die hoed bied ‘n Ultra Violet faktor van 50, wat beteken dat dit die vel 50 keer die beskerming bied teen die skadelike strale as die vel self.

Voordele van die handelsmerk, Urban Beach Clothing, se produkte sluit in dat dit gemaak is om die Afrika-son te oorleef, en word deur die Suid-Afrikaanse Kankervereniging (CANSA) herken as ‘n uitstekende bron van beskerming teen die gevaarlike newe-effekte van die son. Hulle reekse sluit in golfhoedens, as ook leefstyl-, buitelug en kinderhoedens, so daar is werklik iets vir almal onder die son. Boonop sal jy ‘n plaaslike onderneming ondersteun en Kersfees vir al hul afhanklikes moontlik maak na ‘n harde jaar. Dit, in opsig self, moet ‘n geskenk wees. 

Kersfees in die Kaap Geskenkegids
Urban Beach Clothing se Karoo-hoed in Room-kleur

Diemersdal Chardonnay Unwooded 2020

R70,00 op Diemersdal se webtuiste

Diemersdal se Chardonnay Unwooded 2020 is ‘n modieuse wyn en ‘n perfekte geskenk vir die wat nie vanjaar gelukkig genoeg is om Kerstyd in die Kaapse wingerde te spandeer nie. Chardonnay is ‘n wyn wat die wingerd se “terroir” uitdruk. Hierdie term word gebruik om die klimaat en ligging wat in die wyn gereflekteer word, te beskryf. Sodoende, sonder om té poëties te klink, sal jy die Kaap in ‘n glas kan geniet met Diemersdal se Chardonnay, want dit is tog wat wyn is – poësie. 

As jy ‘n bietjie ekstra moeite wil insit om vir jou geliefdes te wys jy is dankbaar vir hulle teenwoordigheid in jou lewe, voeg ‘n versameling kristalwynglase by.  

Maison Witwyn Glase

R270,00 vir ‘n pak van 4 by Woolworths 

“Sal jy meer ontsteld wees as hierdie breek of as híérdie breek?”, vra my vriend toe ek nie kon kies tussen die Maison wynglase en die met ‘n klassieke geronde bodem nie. Hy het nie geweet dis ‘n geskenk nie, maar dit was die beste inkopie-advies wat ek nog ooit ontvang het. Ek het onmiddellik aan die persoon se reaksie gedink vir wie ek beplan om dit te gee sou haar liefie-kat dit van die tafel af stamp. 

“Hierdie met die plat bodem!”

Wynglase is altyd ‘n goeie idee vir wynliefhebbers, veral as hulle nog besig is om huis te skrop. Kies kristalglase wat loodvry is soos hierdie van Woolworths se Studio.W om kwaliteit te verseker. 

Kersfees in die Kaap geskenkegids
Diemersdal Chardonnay Unwooded 2020 en Maison Witwyn Glase van Woolworths

Fujifilm Instax Film

R159,00 vir ‘n pak van 10 op Takealot.com

Die laaste item op my Kersfees in die Kaap geskenkegids is Polaroid films (of ‘n Polariod kamera). Dit is lekker om ‘n mens se herinneringe vas te vang, veral hierdie tyd van die jaar wanneer die hele familie by mekaar is. Polaroid foto’s gee ‘n mens die geleentheid om die vlietende oomblikke vas te vang op ‘n tasbare manier, sodat ‘n mens vir jare nog dit kan koester. ‘n Mens is geneig om foto’s van jou foon af te vee as dit nie perfek is om te deel op sosiale media nie, maar met Polaroid foto’s is dit heeltemal iets anders. Dit gaan alles oor die herinneringe. 

Indien jou geliefde reeds ‘n Polaroid kamera besit is hierdie ‘n geskenk wat jy weet hulle sal benut. Dit sal vir hulle wys dat jy oplet na hulle stokperdjies en na die klein goed wat hulle uniek maak! 

Kersfees in die Kaap Geskenkegids
Fujifilm Instax Film

Dis die gedagte wat tel…

Hierdie is net my idees van goeie geskenke, en indien jou geliefde lief is vir wyn, mode en goeie herinneringe kan jy nie verkeerd gaan met die “Kersfees in die Kaap geskenkegids” nie. Hou wel in gedagte dat almal verskillend is en die beste geskenk wat jy vir iemand kan gee een is wat wys dat jy die persoon se belangstellings in ag geneem het. Soos hulle sê: “Dit is die gedagte wat tel”. 

Author

A firm believer in working, playing and loving equally hard. Don't let my RBF scare you I can easily be bought over with a dad joke, or a glass of Chardonnay.

Write A Comment