Kokkedoor verhuis na die gróótstad en jy kan dit nie misloop nie

Kokkedoor en nostalgie loop hand-aan-hand. Jou ouma se Suid-Afrikaanse onthoukos in kombinasie met die nuutste kookgiere is ‘n wenresep wat nog altyd in Kokkedoor se guns getel het en die derde seisoen van hierdie gewilde reeks is geen uitsondering nie. Al het die ligging verander van Prins Albert na Kaapstad, is daar geensins afgeskeep op die nostalgie, intriges en pragtige kos nie.

Nuwe Inspirasie

Die hele Kokkedoor-stel is oorgedoen. Die eertydse plaasgevoel is verruil vir ‘n oorwegend meer art deco-gevoel, en Kaapstad self tree die hoofrol in. Die heel eerste klompie tonele herinner aan ‘n tipiese Harry Potter-film – ‘n magiese bus laai deelnemers in die skemer op terwyl ‘n betowerende deuntjie in die agtergrond die momentum bou.

Dit is ook duidelik dat die vervaardigers ook by talle ander kosreekse gaan inspirasie delf het. Die nuwe Kokkedoor-deuntjie gaan gepaard met ‘n reeks skote wat baie aan Chef’s Table herinner. Die progressie deur Kaapstad se strate, geweef tussendeur die stories van kos en nostalgiese herinneringe, spreek van die gewilde Salt, Fat, Acid, Heat-reeks.

Die voorafgenoemde magiese element neem mens terug na die beeldskone Zumbo’s Just Desserts wat verantwoordelik is vir Netflix se mees skouspelagtige nageregte. As jy enigsings ‘n Jan aanhanger is, sal jy ook sy invloed herken op die voorstelling van die beoordeelaars. Dit behels natuurlik ‘n slim-gebruik van skaduwees, naby-skote van hoofbestanddele en asemrowende dekor.

Die mens-element

Kos-herrineringe is die fondasie van die hele Kokkedoor-reeks. Deelnemers van regoor die land kom saam, professioneel al dan nie, om hul kos-filosofie aan kykers te illustreer. Nie net is dit ‘n weeklikse skarrel om die beste dis nie, dit is ook ‘n samekoms van mense. En soos ons almal weet, verg groepwerk harde werk!

Dit is opmerklik dat talle van die onthoukokke uit die Noorde van ons land afkomstig is en ek is opgewonde om te sien hoe die tradisies uit daardie streke deur die kinkelkokke omtower gaan word. Die een insetsel vertel die storie van ‘n dame wat van Bloemfontein, wat ook my tuisdorp is, afkomstig is en sy vertel met graagte dat dit haar heel eerste besoek aan Kaapstad is. Vir my, is dit hierdie tipe verhale waaraan Kokkedoor se sukses toegeskryf kan word. Dít en die pragtige taalgebruik; terme soos boepenseier, spoeggies sop en werfhoenders is volop in hierdie unieke reeks.

Kokkedoor is weekliks Donderdae op kykNET te sien, met ‘n herhaling op Sondae. As jy nie op datum is met die reeks nie, kan jy ook die eerste en tweede seisoen nou op Showmax stroom.

Hooffoto te danke aan kykNET se YouTube-kanaal

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *