Kosmaak vir een – deel 1

Die deur klap toe agter my na ‘n lang eerste werksdag. Ek ruil my ongemaklike kantoor skoene vir warm pantoffels. Ek is honger. Ek maak my yskas oop. Rou wortels, eiers, ‘n blok kaas en ‘n bottel koeldrank. In my koskas sien ek nie veel meer nie. Sout en peper, ‘n blikkie tuna, ‘n toe pakkie meel. Mayonnaise, blatjang en ‘n pakkie twee-minute-noedels. Wat eet ek vir aandete? Ek is honger!

Ek probeer vinnig dink wat my ma gereed sou hê as ek nog in die huis gebly het. Warm frikkadelle met fyn aartappels, groente en ‘n geurige bruinsousie. Nee wag, vandag is Dinsdag, dis hoender-dag. Dit sou dalk hoender-á-la-king gewees het op rys, of selfs daai lekker broccoli-hoender gereg uit my ouma se resepteboek. Resepteboek! Ek het mos die nuutse uitgawe vir my gekoop, laat ek kyk of daar dalk enige inspirasie vir my is. Dis die een fancy resep op die ander, ek het nie room of vars kruie of enige van daardie goed in my yskas nie. Hoe maak mens aandete vir een? Om nie eers te dink aan gesond, gebalenseerd en goedkoop nie.

Ek bel my ma. Ek verduidelik vir haar presies wat my kos situasie is. Sy wil-wil begin vra hoekom ek nie vroër die dag aan aandete gedink het, om inkopies daarvoor te doen nie, toe raak sy stil en sê: “Dis maar alles deel van die grootmenslewe, my kind.” Uit haar kop begin sy ‘n paar maklike en vinnige resepte opnoem. Natuurlik alles hoender resepte, want vandag is hoender-dag, Dinsdag.

Terwyl sy praat maak ek die vrieskas oop, en tot my redding lê daar ‘n pakkie gevriesde hoenderborsies. Op instruksie laat ek die gevriesde vleis ontdooi in koue water terwyl ek die res van die bestandele uit hulle plekke haal. Na minder as ‘n uur eet ek blatjang-hoender op pasta, met ‘n oorskiet bakkie gereed vir more se middagete by die werk.

As jy ook kosmaak vir een, Hiér is die resep wat my gered het:

BESTANDDELE:

5 ml Olie

5 ml Botter

5 ml Knoffel

1 Ui [Grof Gekap]

600 g Hoender [Rou & Ontbeen]

5ml Hoenderspeserye

5ml Sout & Peper

250 ml Mayonaise

60 ml Suurlemoensap

30 ml Bladjang

10 ml Kerriepoeier

125 g Skyfies [Bladjang Geur]

125 g Kaas [Gerasper]

METODE:

Skakel oond aan op 180ºC.

Verhit die olie en botter in ‘n pan.

Braai die ui en knoffel tot die ui ligbruin van kleur is, en gooi die ontbeende hoender, hoenderspesery, sout en peper daarby.

Braai vir ongeveer 10 minute oor medium hitte.

Laat die hoender afkoel en breek dit op in growwe stukke.

In ‘n mengbak, meng die mayonaise, suulemoensap, bladjang, kerriepoeier en grofgebreekte hoender saam.

Gooi die hoendermengsel in ‘n oondbak. Breek die skyfies bo-op en sprinkel die kaas bo-oor.

Bak vir 20-30 minute, todat die kaas gesmelt en bruin is.

Geniet warm saam met pasta of rys.

 

Maak jy ook kos vir een? Deel hiér jou resep!

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *