Loki Rothman: klankbaan vir verlore siele | 9Lives
Reading Time: 2 min

Verlore. Ons almal het iewers in ons lewens al verlore gevoel en nie regtig geweet waarheen ons op pad is nie. Moenie bekommer nie, ek het die verlore gevoel baie drasties opgeneem en sak en pak Kaap toe getrek. En as ek nou die tyd kon terugdraai na toe my blou City Golf gepak was tot bo, sou ek Loki Rothman se nuwe solo album, Op My Pad, saamgevat het as die klankbaan tot my nuwe begin. 

Die talentvolle musikant, kitaarhero en sanger het sy eerste Afrikaanse solo album bekendgestel op alle musiekplatforms en die album bestaan uit 10 snitte. 

Die album skop af met die liedjie, Op My Pad. Hierdie liedjie het ‘n warm en gemaklike toon vol hoop. Die liedjie is ‘n mengsel van rock, pop, folk, akoestiese en organiese elemente gekombineer met sterk Afrikaanse lirieke wat vir al daai verlore siele ‘n bietjie hoop sal gee. 

Soos wat jy op jou pad is na ‘n nuwe begin, gaan die sagte elektriese kitaarklanke van Storie jou verlore siel oorweldig. Storie is rou en eerlik. Jy kan onbliklik agterkom dat hierdie ‘n storie is oor regte mense, regte verhoudings en regte omstandighede wat ons almal al in ons lewe ervaar het. 

Volgende op die album is my gunsteling, Dronkverdriet saam met Francois van Coke. Die oomblik toe ek dit hoor, toe kon ek dadelik sien hoe dit deel van my klankbaan tot in die Kaap kon wees. Wat hierdie liedjie vir my laat uitstaan is die suiwer klanke vanuit Rothman se rigting tesame met die “rock & roll” klanke vanuit van Coke se hoek. Hierdie kombinasie maak Dronkverdriet eg en seer. 

Ek Mis Jou Ook is ‘n liedjie saam met sy sussie, Margot Rothman. Die liedjie begin met indrukwekkende kitaarspel, wat net weereens Rothman se kunstenaarskap bewys. Hierdie is die tranetrekker op die album. Maar in almal se klankbaan van hul lewe is daar ‘n tranetrekker of twee ook verskuil. Hierdie ballade is vreeslik mooi vervaardig. Die akoestiese akkoorde tesame met Margot se sterk stem gaan jou laat stil sit vir ‘n rukkie. 

Die album bevat ook samewerkings met Die Heuwels Fantasties, Riana Nel en Laurika Rauch. Gepraat van tannie Laurika. Die liedjie getiteld Fitzroy Straat is die beste manier om die album af te sluit. Dit is die straat waar sy oupa gebly het en handel oor al die goeie herinneringe wat hy van daardie tyd onthou.

Spyt is ‘n goeie ding, dit kom altyd net te laat.”

Dit is al meer as ‘n jaar sedert ek met my volgepakte City Golf die N1 aangedurf het tot in Stellenbosch. Op My Pad maak my nostalgies en vat my terug na daardie tyd vol onsekerheid, maar wys ook weer met die stukkies hoop wat deur die album vloei, hoe ver ‘n verlore siel gekom het.

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment