Reading Time: 3 min

Uit die pen van Johan Cronje, ‘n naam waarvoor ek gaan uitkyk soos ‘n nuwe eeu van Suid-Afrikaanse films intree, kry ons eers Wonderlus en nou Meisies wat Fluit. Albei uitsonderlik uniek in hul uiteensetting, kinematografie en narratief binne die Suid-Afrikaanse film konteks, maar tog só bekend aan ons: vloekwoorde, omgekeerde geslagsrolle, buite-egtelike kinders, egskeidings, ontrouheid, doellose loopbane en, durf ons dit noem, seks. En baie daarvan. Meisies wat fluit is die toonbeeld van jou laat 20’s, vroeg 30’s in ‘n konserwatiewe Afrikaanse konteks. 

Die karakters swyg nie oor hul twyfelagtige besluite nie en voel ‘n veer vir dit wat hulle veronderstel is om te doen. Daar is ‘n selfbewustheid in die storielyn en so ook in die manier waarop die storie vertel word, wat verfrissend is, juis oor die uncanniness daarvan. Dit is ‘n manier van film kyk wat onbekend is in sy uiteensetting(die semi-soets van die Afrikaanse wêreld het ons almal ge-brainwash) maar so gemaklik soos die bed van jou universiteitsliefde (vra maar vir Henk en Sofia). 

So waaroor gaan dit?

Henk (Stiaan Smith) en Sofia (Leandie du Randt) het te vroeg getrou (volgens hulle) en te vroeg geskei (volgens die kyker). Daar is ‘n onvermydelike chemistry tussen die twee en alhoewel die kyker nooit heeltemal toegelaat word om die algehele storie van hulle huweliksontknoping te sien nie, weet jy dat dit ‘n wipplank-romanse is wat nog lank nie verby is nie. Henk en Sofia loop mekaar raak in ‘n bar na ‘n jaar se afskeid. Die ontmoeting raak aan al die punte wat heel moontlik gelei het tot hul egskeiding, maar die afgelope jaar se frustrasie loop uit op ‘n spanning wat die twee net in die slaapkamer as ou liefde kan vermom. Die bekende liefde, die “ou Henk en Sofia”. Wat volg is ‘n wedersydse eksklusiewe ooreenkoms, of soos hulle dit noem, “vriende met voorwaardes”, waar hulle saam woon en basies funksioneer soos ‘n getroude paartjie, maar met ‘n paar “huisreëls”. 

Soos jy reeds kan dink, is hierdie ooreenkoms onhaalbaar vir twee aantreklike, suksesvolle en hoogs seksuele jong mense. Die drama word aangedik deur die insette van goeie vriende Jani (Amalia Uys), Johan (Bennie Fourie) en Gert (Geon Nel). Dis juis dié tonele wat Meisies Wat Fluit puik maak; die dialoog is so natuurlik soos ‘n bier na werk of ‘n babbelas-koffie op ‘n Saterdagoggend. Dis rou, eerlik, en sonder sensuur, presies wat jy sal verwag van jou goeie vriende. Stiaan Smith staan in hierdie opsig uit – sy laissez-faire benadering tot humor is uitstekend en soveel beter gemaak deur sy somtydse bot reaksies op stellings of vrae. Afrikaanse komedie het ‘n neiging tot die bisarre of bombasties, maar daar is niks minder vermaaklik as ‘n grappie wat homself uitvoer as ‘n performance nie. 

Dis ook op die punt waar ek ons first lady, Leandie du Randt, moet kritiseer – moenie my verkeerd verstaan nie, ek dink haar rol as Sofia is fantasties, maar daar is wel oomblikke waar die bekende Binnelanders-Invanka deurskyn en waar ek net so ‘n bietjie op my tande moet kners vir haar “te veel, maar nie genoeg” optrede. Nietemin, die tonele tussen Sofia en Henk is vurig en sonder die ongemaklikheid wat sonder twyfel geheers het op stel (jy sal weet na watter toneel ek verwys). 

Op die tegniese aspek kan ek nie die fliek fout nie. Soos ons gesien het in Wonderlus; daar is skoonheid in eenvoud en Meisies Wat Fluit volg hierdie advies. Van stelontwerp tot beligting tot redigering is daar ‘n duidelik en deurdagte sinergie. Die klankbaan verdien ook ‘n resensie op sy eie. Met onbekende, tog minimale Afrikaanse musiek, is die klankbaan ‘n hoogtepunt in nie net die spanning van die fliek as geheel nie, maar ook die intieme tonele tussen Henk en Sofia. 

Die moeite werd? Beslis.

Waar Wonderlus selfbewus is oor die onvermyddelike kringloop van die heteronormatiewe kultuur binne die Calvinistiese, konserwatiewe Afrikaanse kultuur, draai Meisies Wat Fluit die ideologie op sy kop. Alhoewel die film steeds ooreensteem met die bogenoemde, is daar ‘n doelbewuste draai teen die konvensionele en bevraagteken die narratief juis hoekom ons so geneig is om te doen wat verwag is. Dis ‘n wroeging tussen wat reg is, maar wat lekker voel. Dit dui dus op ‘n vlak van bewustheid van ons gebrekke, maar plaas dit in die kollig, eerder as om dit weg te steek agter foutlose liefde, ‘n oorheersende oortuiging in geloof, ‘n catchy soundtrack en die gesogte “happily ever after”. Die meisie fluit, sy word by die deur uitgesmyt en maak dan ‘n skaamtelose lekker fliek daaroor. 

Meisies wat fluit is nou te sien op Showmax.

Author

The girl with the sleek cut that can shop up a storm in a second-hand store. I love a good story, and I love it even more if it is told well. Don't like my blazer? Don't care. Looking to be impressed? You should see me fly a drone.

1 Comment

  1. I am truly thankful to the holder of this site who has shared this fantastic piece of writing at at this place. Yettie Thacher Labana

Write A Comment