Liewe Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, 

Die blonde kaaskop wat ek vandag pa noem was 22-jaar oud toe die Eet Kreef album die lig gesien het. Die verwarde tiener was toe in die weermag en het skelm dié album geluister. Kort daarna het hy die weermag verruil vir Potchefstroom en dit was daar waar hy vir die eerste keer musiek gesien het in die vorm van Johannes Kerkorrel, die Gereformeerde Blues Band en die Voëlvry beweging. 

Nog voordat ek vir myself kon dink en my eie klere kon uit kies, was Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band deel van hierdie haasbek, boskind se lewe. Die woorde van Onder In My Whiskeyglas was deel van my woordeskat nog lank voordat ek begryp het watter impak hierdie manne regtig op die Afrikaanse kultuur gehad het. En alhoewel ek nie verstaan het wat ek beleef het nie. Het daardie aande die boskind van vandag gevorm, met dieselfde ongesonde obsessie met Hilbrow, Ossewa en Energie as haar pa. 

Dankie vir ‘n Afrikaanse album wat ‘n blywende indruk op mense in ‘89 gemaak het toe hul dit vir die eerste keer gehoor het. As dit nie vir daardie blywende indruk was nie, sou ek nie grootgeword het met Johnny in my lewe nie.

Die sêding: “Sê ‘n ding soos wat hy is,” is oor en oor bewys in hierdie tydlose album. Kerkorrel het gesê wat almal te bang was om te sê oor die Apartheid perd met die NP regering as joggie. En die inhoud is vandag meer relevant vir hierdie post-Apartheid verwarde tiener.

Liewe Laudo Liebenberg en kie, 

Dit is nou 30 jaar later. My pa luister nogsteeds Eet Kreef en BMW het deelgeword van ‘n Sondagmiddag braai op die stoep. Daar was gesels oor die lewendige vertonings waar Johannes Kerkorrel se emosie deur jou kon sny. En het ek gewens dat daardie emosie op my ore kon val. 17 Augustus 2019 het aangebreek en ek het by die Drostdy teater in Stellenbosch in gestap vir die herlewing van die Eet Kreef album. 

Laudo Liebenberg se stem het rou op my ore geval met die eerste klanke van Sit Dit Af. Met die akkoorde vanuit die rigitng van Frank Freeman kon ek vir ‘n oomblik myself verbeel ek is in 1989. Die herlewing van Eet Kreef het die album in die oorspronklike volgorde gespeel wat begin het met Sit Dit Af en geëindig het met Ry. Ry wou die gehoor nie en toe met die enigste encore waaraan mens moontlik kon dink, Hoe ek Voel vanaf Kerkorrel se Bloudruk album het die teater gegroet. Die komposisies vanuit die pen van Frank Freeman en Etienne van Rooyen was so naby aan die oorspronlike, dat as jy jou oë sluit, jy vir die Gereformeerde Blues Band kon hoor. 

Die talentvolle, Schalk van der Merwe, het die rol van die basspeler bekleë met Sheldon Yoko op dromme. Daar is min musikante wat kan kers vashou by hierdie twee. Met ongelooflike craftmanship het Johannes Kerkorrel voort geleef. 

Dit is nou al ‘n paar weke na daardie ikoniese aand in Stellenbosch. Alhoewel ek nogsteeds nie woorde het om die vertoning te beskryf nie, is daar net een woord wat ek wil uiter; Dankie. Dankie dat julle ‘n ongelooflike album justice gedoen het. Julle het nie die klanke verander nie, maar dit net verryk. Dankie vir die bekende rock klanke waarmee ek groot geword het. Maar dankie ook vir die nuwe klanke wat bygekom het. 

Dit is erfenismaand en vir my gaan dit lankal nie oor of jy kan braaibroodjies maak nie. Hierdie erfenismaand celebrate ek dit wat was en dit wat kom. Dankie aan die nuwe Eet Kreef-beweging dat julle gekom het.

Ek sluit af met die bekende woorde van musiekfotograaf, Sean Brand;

“Ek het musiek gesien en ek kan nie ophou kyk nie.”

Op 17 Augustus 2019 in die Drostdy teater het ek musiek gesien en ek hoop nie ek hoef ooit op te hou kyk nie. 

Foto vergunning van texxandthecity.com

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment