Geliefde Francois Van Coke en al sy tjommies,

My hele wese was deurdrenk met nostalgie die oomblik toe ek deur die deure van Grand West stap. Francois van Coke en Vriende is enige MK-baba se droom. As ‘n verwarde post-Apartheid tiener besmet met puisies, het ek my rug gedraai op die kerk, trou, en kinders kry en gedraai in die rigting van legendes soos Francois van Coke, Arno Carstens en Jack Parow. Hulle het gesê wat ek te bang was om te uiter. Hulle het opgestaan vir ‘n generasie wat tussen die boom van die ou Afrikaner kultuur en die bas van ‘n gelyke reënboognasie was. Maar net soos hierdie legendes, het ek ook grootgeword. Minder puisies, maar wel nog verward.

Ek kon op Vrydag, 3 Mei 2019, my nostalgiese skoene afstof, aantrek en hard partytjie hou. Hierdie is my liefdesbrief. ‘n Moerse dankie-sê  aan julle wat my gehelp het om nie aan depressie te ly nie.

Wat gebeur wanneer jy die real MVP’s soos Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel, Springbok Nude Girls, Laudo Liebenberg en Die Heuwels Fantasties saam op ‘n verhoog sit met nuwe gesigte soos Die Gevaar, Early B en Majozi?

‘n Wenspan.

Maar wie het op die ou einde werklik gewen? Ek.

Vandat ek gehoor het dat hierdie partytjie in Kaapstad gaan plaasvind was ek vreeslik opgewonde.

“Uiteindelik ‘n vertoning waar Afrikaanse rock&roll gaan seëvier, waar almal gaan reunite in die naam van Alternatiewe Afrikaans met ‘n koue bier in die hand!”

Die toer van nostalgie het afgeskop met Francois van Coke en Die Gevaar. Dankie Jedd Kossew, Richard Onraet, Sheldon Yoko en Rudolph Willemse vir klanke wat aan niemand behoort behalwe aan ‘n gehoor wat nog glo in harde negatiewe musiek nie.

Volgende op die toer van nostalgie is Laudo Liebenberg. Dankie vir vocals deurdrenk met rouheid en eerlikheid. Die liedjie “Spaar My Asseblief” is ‘n liedjie wat terugkyk na kinderjare wat gepaard gaan met die verwagtinge van ons konserwatiewe Afrikaner-kultuur wat my laat terugdink aan die verwarde tiener wat eens daar was.

‘n Groot shoutout aan Sheldon Yoko vir ‘n bekwame en kreatiewe drom-outro wat vir lank nog in my ore gaan suis.

Elke liedjie en elke musikant was besonders en het in hul eie reg uitgestaan. Maar as ek nou in hierdie brief vir een act ‘n groot dankie moet sê , is dit vir Coenie de Villiers. Dankie dat jy deur sagte klanke en ongelooflike craftsmanship, die alombekende Hillbrow justice gedoen het en verseker het dat Johannes Kerkorrel sal voortleef.

My nostalgie was omtrent aangehits toe die Van Coke Kartel manne op die verhoog gestap het! Dankie dat ek vir ‘n laaste keer stuk vir stuk ingesluk kon word deur ‘n tweespoor wat my terug geneem het na die goeie ou dae waar die son saam met legende, Jedd Kossew kon uitkom.  

Baie het verander sedert Die Fokof Bende die Afrikaanse musiekbedryf op horings geneem het. Beide die bende en die verwarde tieners wat hul lirieke saam geskree het, het grootgeword. Wat egter nie verander het nie is die krag waarmee Francois van Coke en sy vriende se musiek nogsteeds direk in ons kultuur praat.

Maar net soos wat nostalgie dit wil hê , moes ek vir ‘n oomblik in stilte sit met die akoestiese spel van volmaaktheid met “Dit Raak Beter”. Ek wil hierdie oomblik gebruik en dankie sê aan Majozi. Dankie dat jy net soos Die Gevaar en Early B, die Suid-Afrikaanse musiekbedryf na nuwe hoogtes vat en bou op wat Springbok Nude Girls en Fokofpolisiekar so hard aan gewerk het.

Gepraat van Springbok Nude Girls — ek dink nie daar is genoeg woorde van waardering vir Arno Carstens in my woordeskat nie. Die vertoning van “Ek Weet Nie”, vanaf Francois van Coke se Moontlik Nooit album sal ek saam met my vat tot in my graf.

Early B het net weer bewys dat hy nie in die friendzone van die musiekbedryf hoort nie. Dankie vir “Altyd Lief Vir Jou” en dat jy diep spore in hierdie hart vol spyt en verraad getrap het.

Fokofpolisiekar en Jack Parow, ek salueer julle. Dankie vir elke dagdronk wat opeindig met ‘n bang babelas.

Die heimwee en nostalgie kom tot ‘n einde met Die Heuwels Fantasties wat by Francois en Die Gevaar aansluit vir “Ek lewe ek belowe.” Dankie vir ‘n liedjie wat gevul is met die kenmerkende pop/rock klanke van Die Heuwels Fantasties.

Daar is ‘n knop in my keel soos die verwarde tiener terugsink in die verlede. Ek verlaat my nostalgie saam met die Grand Arena in die mooie Kaapstad. Om in die verlede te bly is nie ‘n opsie nie, maar ek is dankbaar dat ek vir een aand weer kon terugkeer na die heimwee.

Dankie Francois en al jou tjommies. Dankie dat ek deel kan wees van ‘n vertoning wat opgeskryf sal word in die geskiedenis.

Al my liefde, respek en heimwee,

Die verwarde post-Apartheid tiener met puisies, nogsteeds opsoek na ‘n plekkie in die son.

Author

The girl with the quirky laugh and brown hat looking for all the beauty the world has to offer

Write A Comment