Parow to Parowfest: Ons gaan hard partytjie hou | 9Lives
Reading Time: 3 min

In 2010 het “die ou met die hoed by die bar” op die Suid-Afrikaanse musiektoneel verskyn en hy het daarin geslaag om Afrikaanse tong-in-die-kies rap op die internasionale map te sit – iets wat baie min plaaslike kunstenaars nog kon vermag. In 2017 het hy sy eie fees in Nederland aangebied naamlik Parowfest. ‘n Vier uur lange musiekontploffing waar hy die verhoog gedeel het met van die grootste Nederlandse kunstenaars wat saam met Parow in ‘n uitverkoopte venue in Utrecht rondgespring het. “Parow to Parowfest” dokumenteer die pad van Pappa P – van grootword in die suburbs van Kaapstad tot die oomblik wat hy op ‘n verhoog gestap het voor duisende aanhangers, meer as 10 000 kilometer ver van die huis af. 

Ek maak dit geen geheim dat Boepens my dalk ‘n rede gee om te lewe nie, maar ná ek die dokumentêr, “Parow to Parowfest” gekyk het, het ek nog meer rede. 

In “Parow to Parowfest – The Jack Parow Story”, met die regie behartig deur Charlene Brouwer, kry ons ‘n blik op die Afrikaanse rapper, van sy oorsprong tot sy blywende musiekloopbaan. 

Die dokumentêr skop af net ‘n paar uur voor Jacky P se vertoning in Nederland, waarna  die dinamiese musiekstorie rewind na Zander Tyler se kinderdae en waar, of altans hoe, dit alles begin het. Ons word gevat deur ou foto’s, staaltjies gedeel deur sy ma en ouer suster en onderhoude met musikante binne die Alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging. Van die get-go af kry jy ‘n eerlike en insiggewende blik op die lewe van Tyler. Wat vir my uitstaan van die dokumentêr is die kontras tussen die voorbereiding vir die Parowfest teenoor die stories wat Parow gebring het tot op daardie oomblik in Utrecht. “Parow to Parowfest” is ‘n Jack Parow partytjie op sigself, vol energie, Jagermeister, lang pette en skreeuende aanhangers (die laasgenoemde was dalk net ek in my sitkamer). 

Parow to Parowfest

Jy kan ook die bekende gesigte van Fokofpolisiekar, Valiant Swart en Vegas te sien kry waar hul met groot bewondering hul herinneringe van Parow deel. Valiant Swart het dit so mooi beskryf toe hy sê “en al wat ek kon dink is, bliksem, ek wens ek was deel hiervan”.  

Ek het nog altyd gewonder wie die Kerkorrel, Kramer en Niemand van my generasie is en gisteraand soos ek verder in “Parow to Parowfest” in delf, het ek net weer besef die waarde wat die man met die snor gebring het tot die post-Apartheid Afrikaner jongmens. 

Parow het bekend geword in dieselfde era as Fokofpolisiekar, Die Antwoord en Die Heuwels Fantasties en het ‘n soortgelyke kultuurskok bewerkstellig, maar soos wat Wynand Myburgh van die Bende dit beskryf, niemand anders kon dit nog regkry om voor ‘n gehoor buitelanders te staan en musiek in Afrikaans te maak nie. 

Dit het my laat terugdink aan ‘n boek wat ek gelees het van Deon Maas, Melk die Heilige Koeie. In die boek is daar ‘n hoofstuk getiteld, “Jack Parow”, en hier beaam Maas dit – die Afrikaner is verkeerd om vir Steve Hofmeyr te sien as hul vader,  Jacky P moet eerder die rol vervul, want hy kan mense van verskillende lande, tale en rasse bymekaar bring. 

Hierdie dokumentêr volg dieselfde vloei van enige musiek dokumentêr, met liedjies, vertonings en onderhoude gevleg deurmekaar om die musiekstorie te vertel. Maar tog is daar vir my meer egtheid aan “Parow to Parowfest”; jy kry ‘n behind-the-scenes blik op die musiekgod waar hy sy eie merch tel en sy ma geluk wens met haar verjaarsdag. Dit wys die man agter die pet vol deursettingsvermoë, passie en talent, en nie net die kunstenaar wat saam ons bons by OppiKoppi nie. 

“Parow to Parowfest” was my Oppikoppi vir 2020. Het jy al ooit gewonder wat sy eerste stage naam was? En watter Death Cab for Cutie liedjie het Tussen Stasies geïnspireer? Dan moet jy 10 Desember 2020, “Parow to Parowfest” op Showmax kyk. En na die 60 minute musiekontploffing, as jy my soek, ek’s die meisie met die hoed by die bar.

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment