Plaaslike Gunstelinge Op Showmax

Enige iemand wat met kykNET of die ou SAUK grootgeword het, sal vir jou sê dat Afrikaanse televisieprogramme tops is. Die huidige verskeidenheid op kykNET, en ook VIA, staan ook nie terug nie, maar tog bly ons in die 21ste eeu en sal ons graag die programme op ons eie terme, en in ons eie tyd, wil kyk.

Ons besluit toe om ‘n draai op Showmax te maak om hul Afrikaanse vermaakaanbiedings te ondersoek en ons is omtrent verras met die verskeidenheid en omvang van hulle versameling. Na afloop van die ontdekkingstog het ons ‘n lys van ons gunstelinge saamgestel, sodat jy hulle ook maklik kan opspoor.

Uit-die-maag-lag gunstelinge

Showmax se plaaslike komedies strek oor verskillende genres en neem talle verskillende vorme aan. As Suid-Afrikaners is ons vreeslik trots op alles wat Trevor Noah plaaslik en in die Verenigde State bereik het en bly hy ‘n gunsteling om na te kyk. Tans, op Showmax, kan jy sy program Nationwild kyk waar hy nuwe en opkomende komediante geleentheid bied om hul staal te wys. Die reeks is op Erfenisdag vrygestel en is ‘n verfrissende blik op jong komediante in die land.

Radio Raps is beslis nie almal se smaak nie, maar indien sulke snaakshede jou geval moenie Die Radio Raps Show misloop nie. Aanlynsensasie, Jonathan, nooi gaste na die ateljee, besoek klein dorpies, kook en gesels selfs met kinders. Kykers kan uitsien na Radio Raps se kenmerkende humor tydens dertien skreeusnaakse halfuur episodes.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Radio Raps (@radioraps) on

As jy enigsins in die 2000’s toegang tot ‘n rekenaar gehad het, sal jy onthou dat Casper de Vries omtrent die rondtes aanlyn gemaak het. Sy reeks, Die Casper Rasper Show, was op kykNET te sien en deesdae kan jy ook die hele reeks stroom op Showmax. Casper is beslis ook nie almal se smaak nie, maar sy kanniedood-aanhangers sal bly wees om te hoor dat die reeks nou maklik te vinde is.

Indien jy nog nie van Tali’s Wedding Diary gehoor het nie, mis jy beslis uit. Julia Anastasopoulos, die gesig agter die immergewilde Suzelle DIY, speel die Johannesburgse poppie, Tali, wat haar troue in die Kaap beplan. Vir aanhangers van Suzelle, en selfs as jy nog nie van haar gehoor het nie, sal hierdie reeks sorg vir verskeie hardoplag-oomblikke.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tali (@tali_babes) on

Liplekker kosreise

Een van my gunsteling kosprogramme wat in Suid-Afrika geproduseer is, is Die Nataniël Tafel. Die Suid-Afrikaanse komediant en leefstylspesialis kook, dek, stileer en vertel stories terwyl hy volgens tema sy visie uitbeeld. Nataniël, wat bekend is vir sy droeë humorsin tesame met sy flambojante smaak, verseker dat die halfuur-episodes jou vasgenael laat.

Ek is verslaaf aan kookprogramme wat kompetisies insluit. Behalwe vir die feit dat jy die mees kreatiewe konkoksies te sien kry, leer jy ook verskeie interessante mense ken. Die Afrikaanse kookkompetisie, Kokkedoor, wat se eerste twee seisoene in die skatlike Prins Albert afgespeel het, was omtrent ‘n nostalgiese reis deur die Suid-Afrikaanse kosjoernale. Jy kan dié ook nou op Showmax stroom.

Vir ‘n Suid-Afrikaanse geur oorsee, kan jy nie Jan op Showmax misloop nie. Hierdie reeks volg Michelin-ster sjef, Jan-Hendrik van der Westhuizen, van Nice tot in Italië waar hy mense ontmoet, kook en die landskap geniet. Die reeks is ‘n visuele fees en laat kykers omtrent hunker na die Europese platteland en Jan se happies wat monde laat water.

Indien jy plaaslik wil reis, op soek na die kosgeure wat ons land se verskillende streke bied, hoef jy nie verder as Plaaskombuis te soek nie. Hierdie reeks, aangebied deur die innemende Elma Postma tesame met Landbouweekblad, gaan doen aan by die land se vooraanstaande plase om die huiskokke te ontmoet. Reeks een, twee en drie wat oorspronklik op VIA te sien was, is beskikbaar op Showmax.

Sappige sepies

Teen 18:30 saans skuif meeste gesinne voor die televisie in. Vir jare het Suid-Afrikaners ‘n draai in die stad van goud gemaak om uit te vind wat in Egoli aangaan. Al was jy ‘n aanhanger van die aantreklike Chris Edwards, of wou jy net in Nenna se kombuis kuier, het hierdie gewilde reeks iets vir almal. Jy kan reeks 1 tot 18 stroom op Showmax – en onthou, Steve Hofmeyr was ook ‘n gereelde gaskunstenaar op die reeks.

Latere jare, het die dokters van Binnelanders vir die weeklikse vermaak gesorg. Hierdie reeks, wat steeds daagliks op DStv te sien is, se eerste agt seisoene is op Showmax beskikbaar. Soos enige sepie het hierdie reeks ‘n influks van bekende Suid-Afrikaanse akteure en sorg daarom vir hope vermaak!

Deesdae, is daar ook sepies wat in die suide van die land afspeel. Een hiervan is die opwindende nuwe reeks, Suidooster. Hierdie reeks bevat talle jong sterre en die storielyn is vefrissend modern en sluit verskeie bekende liggings en gebeure in. Dit is steeds ‘n sepie en het daarom geen tekort aan drama, liefdesdriehoeke en vriendskappe nie. Die eerste twee seisoene is op Showmax beskikbaar.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Suidoostertv (@suidoostertv) on

Raakvat Realiteitsprogramme

Alle grappies op ‘n stokkie, of nog nie heeltemal nie, die realiteitsreeks Die Kliek is ‘n moderne Opsitkers wat gehore laat skaterlag. Aanvanklik aangebied deur Schalk Bezuidenhout, sorg hierdie reeks vir hope vermaak terwyl hulle manne in die ‘ramkamp’ aan die paneel van dames voorstel. Hierdie is nie net ‘n gewone ontmoeting nie, die manne se sosiale media word goed ondersoek en die dames het kans om al hulle vrae te stel. Die reeks het oorspronklik op VIA verskyn en spog deesdae met Jack Parow as aanbieder. Jy kan nou reeds die eerste vyf seisoene stroom op Showmax.

Jaarliks is die hele land aan die gons as deelnemers in die nuwe Boer Soek ‘n Vrou bekend gemaak word. Nie net is hierdie reeks ‘n reis saam met hierdie boere nie — die dames, die kuiers op die plaas en die uiteindelike verhoudings wat daaruit blom, maak hierdie een van die mees gewilde reekse op Suid-Afrikaanse televisie. Ry saam met Nadia Beukes, Minki en Leah na die land se hubare boere en sluit by hulle aan op hierdie reis na ware liefde. Seisoen 7 tot 11 is nou op Showmax beskikbaar.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Boer soek n vrou (@boer_soek_n_vrou_) on

Almal se gunsteling diva, Karen Zoid, se gewilde realiteitsprogram, Zoid Afrika is ook nou op Showmax beskikbaar. Hierdie reeks, wat weekliks bekende Suid-Afrikaanse glanspersoonlikhede insluit, gee Zoid die geleentheid om nie net haar eie staal as musikant te wys nie, maar om onderhoude met bekende gesigte te voer en hul musiek te deel. Tesame met die reeks, word die musiek ook tergelykertyd op Apple Music vrygestel.

Hooffoto afkomstig van Netwerk24

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *