Valentynsdag is nie regtig ‘n dag wat ek vier nie. Maar hierdie jaar het ek gedink dit gaan verander. Dat ek weer iets sal hê om te vier op die dag van liefde in die vorm van die alternatiewe Afrikaanse musiekgroep, Spoegwolf, se 5de album getiteld See.

Het ek uit my Valentynsdag koma ontwaak? 

Met ‘n riem onder my hart kan ek nie maak asof bogenoemde vraag ‘n retoriese vraag is nie. En ek antwoord met ‘n swaar nee.

Laas nag het ek deur Instagram geblaai uit pure verveeldheid en stilgestaan op Spoegwolf se stories. Die een storie na die ander is aanhangers wat die ure aftel tot die vrystelling van See. Alhoewel ek nie daardie tipe aanhanger is nie, was ek ook redelik opgewonde vir nuwe klanke deur die musiekbeweging wat gesien word as die Fokofpolisiekar van hul tyd.  

Hartseer om te sê, is hierdie lewenslange Spoegwolf aanhanger nie heeltemal oortuig deur See nie. Die album bestaan uit 16 snitte en skop dadelik af met ‘n inleiding, Vensters 2012. Vanaf Swaartekrag se dae, is Spoegwolf bekend vir inleidings wat bestaan uit woorde en tussenspele. En daarom was ek vir ‘n oomblik vol hoop dat ek ‘n nuwe storie van die Spoegwolf-saga gaan hê om te lees. Ek was nie dadelik vasgevang nie en met optimisme in my hart het ek myself getroos met die feit dat Vensters nie ‘n bekende term vir my is nie omdat ek nie in Stellenbosch studeer het nie (kyk net hoe baie Pukke is ons hier). Ek het verder in die storie gedelf. 

‘n Bekende skrywer, maar die storie is onbekend. Met die verloop van die album kom daar een woord by my op: ongeslyp. Eerste weergawe. 

See voel vir my of daar nog werk kort tot dit in eie geregtigheid sterk kan staan langs Swaartekrag en Koma. Ek het nog altyd baie respek gehad as dit kom by die produksie van hul albums; met talent wat van die hoogste gehalte is. Met Moskou du Toit op dromme, Chris von Wielligh op kitaar en klavier, Albert van der Merwe op baskitaar en Danie du Toit se liriese inhoud is hierdie ‘n resep vir sukses. Maar in See se geval was die talent nie heeltemal ontgin soos wat ek weet dit kan wees nie. Ek speel nou duiwelse advokaat en haal aan uit Syn van die Swaartekrag album;

“Hey, staan stil vir een sekonde.”

Geliefde wolwe, dalk moes julle bietjie stil gestaan het met See

Alhoewel dit tot dusver klink asof Valentynsdag nie vir my beskore is nie, is daar tog ‘n paar hoogetpunte wat hierdie Valentynsdag die moeite werd maak. 

Spoegwolf is nog altyd ‘n nadenkende luisterervaring van begin tot einde. Dit daag jou uit om die storie te volg, tot dit jou oorlaat om jou eie einde te maak. Daarom het ek verder geluister, want ek weet dat nostalgiese elemente oopgesluit gaan word met sterk instrumente. 

 En wraggies daar gebeur dit in die vorm van Huisdans. Huisdans is een van daardie tussenspele wat bestaan uit 41 sekondes van pure eerlikheid. Ek waardeer hierdie tussenspel ook omdat dit vir ‘n oomblik Chris von Wielligh se talent as klavierspeler in die kollig plaas. Met ‘n voorman soos Danie du Toit, vergeet mens partykeer om weg te kyk en te besef dat ander musikante ook deel vorm van die beweging. Die donkerkop is in my oë hul eie Johnny de Ridder. Die klank agter Spoegwolf.

Hierdie klankspel vanuit von Wielligh se hoek dien ook as die inleiding vir die volgende lied, Seile. Seile is die vlagskip-lied van die album en is ook die eerste musiek video wat bekend gestel is.

Seile is seker my persoonlike gunsteling snit. Net omdat hierdie lied my tref met die bekende groot, vol en lewendige klanke wat ek na smag van die musiekgroep. Asook die grootste veer in my hoed gaan aan Hiram Koopman op saksofoon. Daai saksofoon het my laat voel wat die vorige albums reggekry het; ‘n ongemaklikheid omdat dit ‘n onbekende gevoel is. 

Ek maak dit geen geheim dat ek ‘n groot aanhanger van die uwe Francois van Coke is nie. Daarom het ek bietjie gekroek en nie die storie gevolg nie, en vinnig na snit 7 gespring. Ek het alles probeer Om beter te voel. Hierdie lied is deurdrenk met die bekende rock klanke deur van Coke gevleg met die rouheid en eerlikheid van du Toit. 

‘’Om jou te sien. Ek reën aan die binnekant. Ek het als probeer om beter te voel. Ek reën aan die binnekant. Ek het als probeer om beter te voel.”

Ek het beter gevoel. 

‘n  Verdere hoogtepunt op hierdie album is die eerlike As ek f**cked is. Die instrumentele gedeeltes op dié lied is sterk solos en die repetisies lei tot meer van ’n rock verwerking. 

So van een Spoegwolf aanhanger na ‘n ander? Luister See, maar moenie Koma vervang op jou Saterdagmiddagbraai speellys nie. En hoop, dat net soos vele musikante voor hulle, hulle ook sal opstaan na ‘n lou warm album. 

Laastens…

Alhoewel dit nie die Valentynsdag viering was wat ek voor gehoop het nie, wil ek egter dankie sê vir Spoegwolf. Dankie. Na een jaar het ek darem iets gehad om na uit te sien op hierdie dag.

Foto erkenning spoegwolf.com

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

2 Comments

  1. Dankie vir jou eerlike opinie, Isabel-Marie!
    Ons gaan harder werk om jou weer te roer met die volgende een.
    Terloops, ek speel al die klavier op die tussenspele – Huisdans ook.
    Baie groete en liefde,
    Danie

    • Isabel-Marie Weerheim Reply

      Hi Danie, dankie vir jou terugvoer.

      Ek is nogsteeds ‘n aanhanger en sien dus uit vir die volgende een!

Write A Comment