Resensie: Swart Swaan deur Wilken Calitz | 9Lives
Reading Time: 3 min

Tussendeur die harwar van ons nuwe realiteit, tel ek Swart Swaan deur Wilken Calitz op. Die boek word beskryf as ‘n surrealistiese sprokie, en is in April 2020 onder Peguin Random House South Africa as Calitz se debuutroman bekendgestel.

Die sinopsis

’n Monsteragtige wese het hom in Fabian se tuin tuisgemaak – ’n ondier met ’n dodelike aptyt.

In die skadu van die dobbelhuis waar Fabian ’n veiligheidswag is, werskaf hy en Mossie, pas uit die tronk, om vir die gedierte ’n blyplek te bou en hom te versorg.

Maar net Fabian weet van die trommel wat hy vroeër in die tuin begrawe het – daar waar die dier nou lê. ’n Trommel wat hom in staat sal stel om sy vrou Merinda, wyndrinker van formaat, vir ’n wyle te help vergeet van die skade aan haar gesig en in haar hart.

Die outeur

Wilken Calitz is alreeds vir verskeie jare deel van die Afrikaanse letterkunde milieu, en word veral geken vir sy teaterwerk. Sy passie en talent vir musiekmaak, stel hom toe dus in staat om treffers soos Vaselientjie en Drif se verhoogmusiek te kon komponeer. Wie kan dan ook die trefferstuk 2092: God van klank vergeet waarmee hy in 2013 die Woordfees Uitskieterprys verower het.

Die aard van sprokies

Soos enige gunsteling Kook-en-Geniet resep wat opgetower word, moet ons seker maak die fondasie is eg aan die oorspronklike en dan vandaar uitbou. Swart Swaan word beskryf as ‘n surrealistiese sprokie, en dus is daar ‘n paar vereistes waaraan dit moet voldoen.

Die geskiedenis boeke stem saam dat sprokies oor die jare mondelings oorgedra is en dat hul uniekheid stam uit die feit dat hierdie stories, in meeste gevalle, verskeie interpretasies en uiteensettings het. Nes die geval maar met tale is, moes sprokies oor die jare evolueer om by die tye te pas en steeds in die huidendaagse konteks sin te maak.

Sprokies vervul dan ook ‘n soortgelyke rol as die mites van ouds – om ‘n morele les of standpunt of waarskuwing oor te dra. Jack Zipes skryf in sy bekende 2012 navorsingstuk oor die kulturele oorsprong van die genre, The Irresistible Fairy Tale: The Cultural and Social History of a Genre, die volgende: “Fairy tales are informed by a human disposition to action – to transform the world and make it more adaptable to human needs, while we also try and make ourselves fit for the world.”

Die moeite werd?

As jy enige iets soos ek is, het lees maar moeilik gekom hierdie lockdown. Aanvanklik het ek meer sake-georienteerde boeke probeer lees, gevolg deur ‘n oudio-boek of twee en uiteindelik net opgegee. Swart Swaan het ek via Google Play Books ontvang en net omdat ek nie die platform geken het nie (as ‘n stoere Apple-aanhanger), het ek dadelik weggespring met die boek.*

Swart Swaan lees maklik. Vir ‘n roman wat se inhoud bietjie meer na die sombere neig, lees dit regtig maklik. Dit lees so maklik dat jy eintlik nou en dan jouself vang waar jy lighartig by swaar sake verbyflits – op ‘n goeie manier. Die hoofkarakter, wat ek bes as bietjie van ‘n anti-held kan beskryf, wek so baie simpatie by jou op dat jy later verbaas raak vir wat jy hom alles vergewe.

Hy is nie die enigste karakter wat jou twee keer laat dink nie, soos die storie meer en meer persoonlikhede toevoeg, dans Calitz om die tweevoudige aard van moraliteit wat in hierdie storie bestaan en trippel hy nie om moeilike onderwerpe, soos byvoorbeeld, lewe en dood nie.

Nog ‘n aspek van sprokies wat hy treffend gebruik is die “in-’n-land-ver-van-hier-idee” – ja, in beginsel weet ons waar die storie afspeel, maar die wêreld wat die outeur skep is so ver verwyderd van die leser se eie dat dit daardie magiese aspek van sprokies behou. Dis ‘n droomagtige, somber en surrealistiese wêreld, wat aanvanklik so bisarre en oordrewe voorkom, maar op die ou end in klein subtiele maniere met jou eie werklikheid resoneer – nes ‘n regte-egte sprokie.

*Google Play Books is uiters gebruikersvriendelik en die boeke is bekostigbaar. As jy nie op die oomblik kans sien om ‘n winkelsentrum in te vaar na jou gunsteling boekwinkel nie, sal ek dit beslis voorstel.

Lus vir lees? Klik hier vir ‘n paar ander romans wat ons tans oor gons.

What did you think of the show?

Click on a star to rate it!

Average rating 0 / 5. Vote count: 0

No votes so far! Be the first to rate.

Author

Free State-girl, living in Stellenbosch. Love to explore small towns, read in Afrikaans and everything pop-culture. My favourite yoga move is 'The Pigeon' and one day I'd like to own my own vintage cinema.

Write A Comment