Die jaarlikse kykNET Silwerskermfees is ‘n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse filmbedryfkalender. Die toekenningseremonie, wat deur talle van Suid-Afrika se glanspersoonlikhede bygewoon word, vind jaarliks plaas in Kampsbaai na afloop van ‘n weeklange vertoning van al die beste inskrywings.

Die resultaat van hierdie gewilde kompetisie is gewoonlik ‘n kragtoer van jong plaaslike talent wat in verskillende aspekte van die filmbedryf – van skrywer tot regisseur en akteur – betrokke raak om hierdie films, wat elk ‘n kunswerk in sy eie reg is, te produseer.

Om ‘n kortfilm te aanmekaar te sit is nie so maklik as wat dit klink nie. Enigeen wat al, byvoorbeeld, ‘n haiku aangepak het, sal vir jou sê dat korter, nie noodwendig makliker is nie. Om die hele verloop van ‘n storie in slegs twintig minute (of selfs elf minute) in te pas, sit nie in elke ou se broek nie. Daarom is kortfilms, nes kortverhale, ‘n ingewikkelde medium maar kan baie treffend wees indien dit reg benader word.

Negetien van die beste Silwerskerm kortfilms is tans te sien op Showmax. Ons het ons ses gunstelinge gelys as vertrekpunt vir jou Afrikaans kortfilmavontuur – ons stel natuurlik voor dat jy na almal kyk, want kom ons wees eerlik – Afrikaanse films is tops!

Kromkieriefontein (Elf minute)

Sonder twyfel my gunsteling Afrikaanse film van die laaste paar jaar en dis boonop ‘n animasiefilm ook. Die storie van Kromkieriefontein word vertel uit die oogpunt van ‘n kind en behalwe vir die beeldskone animasiewerk, is die dialoog werklik die hoogtepunt van die film. Hierdie film het ook die prys vir die Best Draaiboek (elf minute films) ingepalm.

Die allegoriese verhaal kyk na ‘n wêreld waar niemand mag lees nie en waar Juffrou Kiertsregop die enigste een is wat nie krom loop op Kromkieriefontein nie. Soos enige goeie animasie is hierdie tekeninge gemik op kinders, maar die boodskap op grootmense en hierdie heilsame storie sal enige iemand genael laat.

Fluit Fluit (Twee-en-twintig minute)

Wie hou nie van ‘n goeie komedie nie? Fluit Fluit kan egter as ‘n tragi-komedie beskryf word en vertel die storie van Suid-Afrika se fluitfenomeen, Ryne de Beer, ‘n paar dae voor sy ‘n groot vertoning op die dorp het. Ryne, wat bekend staan as die Fluitende Predikantsvrou, neem die kameraspan saam terwyl sy voorberei vir die vertoning, die vertoning bemark en kostuums kies.

Wat hierdie film so besonders maak is die hoofaktrise, Cindy Swanepoel, wat die rol van Ryne vertolk. Sy het ook vir hierdie rol die Beste Aktrise in ‘n Kortfilm toekenning ingepalm. Haar geloofwaardige spel en transisie tussen die tragi- en die -komedie is wat hierdie so treffende film maak. Jy kan jouself voorberei vir talle hardoplag-oomblikke in hierdie kortfilm.

Uitstappie (Elf minute)

Die trefkrag van ’n kortfilm lê dikwels in die klimaks en daaropvolgende ontknoping. Omdat die formaat van ‘n kortfilm die skrywer ietwat kan inperk, is die klimaks en ontknoping dikwels dieselfde ding. Hierdie film spog met uistekende kamerawerk, asook uitmuntende vertonings deur die twee aktrises. Die bittersoete einde van die pragtige kortverhaal laat ‘n knop in die keel.

Verder, kan die musiek en die stel van hierdie film ook uitgesonder word as uiters gepas en ‘n integrale deel van die sukses van die kortfilm. Klein, intieme oomblikke en slim dialoog wat op die kamera vasgevang word, maak hierdie spel tussen die twee aktrises, Annelisa Weiland en Greta Pietersen, soomloos en baie spesiaal.

Die Invloed (Twee-en-twintig minute)

Pirow Bekker, bekende Suid-Afrikaanse auteur, het in die vroeë negentigerjare die bundel, Lag Byvoorbeeld, gepubliseer waarin die verhaal Die Invloed opgeneem is. Hierdie is een van die kortverhale wat ons as honneursstudente in Afrikaans behandel het en daarom was ek uiters opgewonde om hierdie kortfilm weergawe te sien.

Die interpretasie van hierdie klassieke verhaal is myns insiens uiters goed gedoen. Die neutrale, amper koue kleure, op stel dui deurlopend op die Romeo-en-Juliet einde wat die karakters tegemoet kom. Die aard van die vissersgemeenskappe in die kleiner kusdorpies word ook goed vasgevang met die see en die water, of eintlik dan die invloed, wat altyd as die onbekende euwel voorgestel word.

Leeftyd van ’n Orgideë (Elf minute)

Daar is slegs ’n paar regisseurs wereldwyd wat dit kan regkry om ‘n film soos ‘n gedig te laat afspeel – elke skoot / woord is weldeurdag, pragtig en omvattend. To The Wonder, ’n film deur Terrence Malick, is een van hierdie films. Die verloop is stadig, die musiek is treffend en elke detail van die stel en elke gesigsuitdrukking van die akteurs word noukeurig nagegaan. Leeftyd van ‘n Orgideë is ook een van hierdie films.

Leeftyd van ’n Orgideë het die prys vir die Beste Kortfilm (elf minute) ingepalm, sowel as die Beste Regisseur (elf minute) en Wilson Dunster se vertolking van die hoofrol is perfeksie. Die storie, wat op ‘n baie eerlike manier praat oor rou, vertel van Ben wat onlangs sy vrou, Emma, aan die dood afgestaan het en verwoed probeer om haar kweekuis vol orgideë aan die lewe te hou.

Cowboy Dan (Twee-en-twintig minute)

Dis geen geheim dat ek versot is op die ‘Western’ genre nie. As dogtertjie het ek saam met my pa die Trinity en Bud Spencer films gekyk en sedertdien mis ek nie ’n film in hierdie genre nie. Cowboy Dan, wat die storie vertel van ’n karwag in Kaapstad wat sy wereld soos die Wilde Weste ervaar.

As jy al ooit in Kaapstad gewoon het, sal jy onmiddelik die landskap van hierdie film herken en ook die Kaaps-Afrikaans geniet. Cowboy Dan, wat homself ten volle as die held van sy eie Cowboys-en-Crooks verhaal plaas, word briljant vertolk deur Brendan Daniels. Die stel en die kostuums spring geruisloos tussen die werklike en die omvattende droomkasteel waarin Cowboy Dan se Wilde Weste afspeel.

 

Hooffoto krediet: falseflag.co.za

Author

Free State-girl, living in Stellenbosch. Love to explore small towns, read in Afrikaans and everything pop-culture. My favourite yoga move is 'The Pigeon' and one day I'd like to own my own vintage cinema.

Write A Comment