Die bekendstelling van ‘n nuwe Spoegwolf album is soos om ‘n nuwe boek van jou gunsteling skrywer oop te maak. Skrywer is bekend, maar jy moet nog in die storie in delf.

Die Spoegwolf-storm

Die 4de album van die huidige gesig van die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging, Spoegwolf is getiteld Koma en is ‘n veertien-snit kragspel wat nog lank aan jou gaan knaag.

Koma is daarop gemik om die veelsydige klanke waarvoor die groep bekend is uit te lig. Met lirieke wat die Stellenbosch manne se insig in alledaagse situasies en die emosies wat hul ervaar met rouheid en suiwerheid beklemtoon. In Koma kan mens agterkom die manne van hierdie folky Afrikaanse groep is nie meer die seuns van Swaartekrag nie, want die liriese temas het gevorder tot ‘n meer volwasse klank. Onderliggende temas waarmee meeste luisteraars kan vereenselwig word oopgesluit deur nostalgiese elemente en sterk instrumente.   

Sagte klanke van Koma (As ek hier uit kan kom) begin en binne die eerste sekondes ontwaak ek uit my eie koma met die veilige, bekende stem van hoofsanger Danie du Toit. Wat hierdie snit vir my laat uitstaan was insetsels van boodskappe en/of voicenotes wat tussendeur gespeel word. Dit het my laat dink aan die talle onbeantwoorde boodskappe omdat almal maar somtyds in hul eie koma verkeer.  Die album raak dus ’n ses-en-dertig minute avontuur wat op verskeie afdraai paaie gaan, in plaas van veertien afsonderlike liedjies. Die ervaring voel soos of ek uit ’n diep slaap ontwaak. Soos ’n koma.

Vergeet van ‘n blou dag

Dit is moeilik om ‘n snit uit te sonder en ek wou die album soos ‘n storieboek lees. My oog vang toe die snit getiteld Lenie Blou ІІІ. Ek kon myself nie keer om na die middel van die storie te blaai nie, want wie het nie gewonder wat het geword van die meisie met die goue lint om haar enkel? Tot my teleurstelling is hierdie snit nie die gelukkige einde waarvoor ons gehoop het nie. Die instrumentele gedeeltes op dié lied is sterk solos en die repetisies lei tot meer van ’n rock verwerking. Dinge is dalk opgefok met Lenie Blou, maar verseker nie met hierdie liedjie nie.

My gunsteling oomblik is die 25 sekondes pure genot in die vorm van ‘n rou, romantiese melodie op ‘n klavier. Die klavierspel gaan dadelik oor tot in die volgende snit op die album genaamd Mayday en ek besef toe net daar dat hierdie musikante se kwota nog glad nie bereik is nie.

Hierdié snit los my in die skemer

Die ongeantwoorde boodskappe en voicenotes gaan nogsteeds voort in Word Wakker en laat my voel of hierdie die spanningslyn van hierdie storie is. Wat ek hiervan hou is dat ek net meer nuuskierig is vir die laaste twee liedjies. 

Ek het die nuwe storieboek van my gunsteling skrywer gelees. Die slot bestaan uit ‘n bekfluitjie, ‘n kitaar en is getiteld Golwe.

Koma bestaan uit mooi ballades gevleg met kopskud liedjies. Die album sal aangenaam op jou ore val tot die opvolgstorie weer met ‘n rooi strik op jou voorstoep beland.

Om hemelsnaam Spoegwolf, antwoord tog net daardie boodskappe.

Author

The girl with the quirky laugh and brown hat looking for all the beauty the world has to offer

Write A Comment