Spoegwolf sit die wind terug in jou seile | 9Lives
Reading Time: 3 min

Spoegwolf was nog altyd vir my ‘n kampvuur-tipe musiek. Of ek nou dans saam met my geliefdes of huil oor ‘n geliefde, Spoegwolf is daar.

Soos ek hier sit, voor ‘n vuur (nou nie ‘n kampvuur nie, maar by my huis in die hartjie van Stellenbosch), met al die geliefdes lank reeds by die huis, luister ek Wind, die 6de studio album van die Afrikaanse alternatiewe musiekbeweging Spoegwolf, en ek voel ‘n stukkie bekendheid in die onbekende van die 11-snit musiekontploffing.

Bekend.

Bekend omdat ek een van daai aanhangers was wat van die Kort Donner  voor die res van die wêreld geweet het, maar ook onbekend, want die storie wat die wolwe vir my vertel in Wind ken ek nie. Wat egter vir my anders is aan dié storie, is dat dit my nie toelaat om my eie einde te maak nie. Die nostalgiese element aan die einde van die album was die slot wat hulle wou gehad het ek by moes uitkom, met die hulp van sterk instrumente.

Die vier wolwe, Danie du Toit, Moskou du Toit, Chris von Wielligh en Albert van der Merwe het langs dié kampvuur afgeskop met “Nat Strate”. Met die bekende voicenotes wat soos stories om my wynglas vou. Daar was ‘n bietjie bekendheid daarin, want storievertellers is die wolwe in murg en been. As ek terugkyk na See, waar die storievertellers ongelukkig stil gestaan het vir ‘n sekonde, kan ek vir jou sê die voicenotes is ‘n aangename ontmoeting. Ek het nog altyd verstom gestaan in die tussenspele van ‘n Spoegwolf album en ek is só bly ons het weer ontmoet.

“Het die siel ooit vir Danie betaal?”

Soos jy verdwyn in die storie van “Nat Strate”, word jy terug gevat na daardie kampvuur waar jy op jou eie was – jy was kwaad, maar jy was ook hartseer. Nou, as jy terug sit langs daardie selfde kampvuur, gee vir ‘n oomblik ‘n luister na die produksie van dié snit op die album. Daar was nog altyd ongelooflike craftsmanship in enige album wat die wolwe na die vuur toe bring. Hierdie is hoekom ek respek het vir Spoegwolf – hulle het nog altyd ‘n hele produksie aanmekaar geslaan wat met soveel kuns deurvleg is.

Dink gou vir ‘n oomblik terug aan daardie aande toe jy langs ‘n kampvuur gestaan het. Toe geluk uit jou en jou beste tjommies geborrel het.

Nou, druk play op “Simonstad” en “Londen”. Die gevoel is die ekwivalent. Alhoewel ek vanaand nie so voel nie, kan ek nie help om my kop agteroor te gooi en te glimlag nie. Of dit ‘n glimlag vol trane of pure geluk is, jy gaan glimlag.

“Simonstad” het uitstekende progressie. Van die eerste akkoorde bou dit op tot ‘n ontploffing van eerlike lirieke, akkoorde en melodieë. Jy kan nie help om te staar met oë vol son nie.

“Heen en Weer” is soos wanneer jy Harry Potter vir die 7de keer lees, maar tog fulfilled voel na die tyd. Elke liewe keer. Jy ken die storie. Jy weet wat gebeur, maar tog ontdek jy telkemaal iets nuut. Dié nuut kom in die stem van Tasche. Du Toit het hande gevat met The Voice wenner, Tasche, vir ‘n pragtige heruitgawe van ‘n romantiese, harmoniserende voorstel van die lied.

“Is Hiram Koopman die 5de wolf?”

Die grootste petrol op my vuur vanaand is Hiram Koopman in “As Dit Weer Reën”. Of Koopman dié 5de wolf is bespiegel ek nogsteeds op ‘n daaglikse basis, maar om die man op saksofoon deur die album te vleg is die opvolgstorie van See waarvoor ek gewag het.

As ek vanaand my kampvuur van voor af wil aansteek, sal ek dit doen op die note van “Stem In Die Wind”. As ek moet erkenning gee, en ook nie n voetfout begaan nie, is dit aan Chris von Wielligh op kitaar. Hierdie mooi ballade word so goed weerspieël in die akkoorde vanuit die rigting van die Johnny van Spoegwolf. Ek het al vantevore Chris vergelyk met Johnny de Ridder, maar daai akkoorde wil ek hoor in die wind soos dit 365 dae van die jaar deur Stellenbosch se strate waai.

“Ja hoor daai”

Dié is my persoonlike gunsteling, want in onder 3 minute word ek op ‘n avontuur, wat in verskeie afdraai paaie vol melankolie en nostalgie gaan, geneem.

Een ding is bevestig, Wind bestaan uit mooi ballades gevleg met kopskudliedjies.

“Het julle die tweede glas wyn geniet voor die slot van die Paarl?”

Van een mede-Spoegwolf aanhanger na ‘n ander, hierdie is nie Koma nie, maar hierdie is ook nie ‘n eerste weergawe nie. Maar nes die eerste hout op ‘n koue vuur, word jy warmer soos jy die storie van Wind ontsyfer en jou eie maak.

Terloops liewe wolwe, antwoord ‘seblief tog daardie boodskappe.

Foto vergunning: Henry Engelbrecht

What did you think of the show?

Click on a star to rate it!

Average rating 0 / 5. Vote count: 0

No votes so far! Be the first to rate.

Author

The VaaIie girl with a laugh better than the joke itself. If you’ve lost me in the crowd, look for the red hat. Or the shoulder pads. Or the floral-patterned blazer. I’ve got a winner of a party trick, just give me a shot of tequila and a raw egg, and if you’re not sure how to start the conversation, don’t worry. I’ve got you covered.

Write A Comment