Enige iemand wat al ‘n troue gereël het sal vir jou sê dat dit nie kinderspeletjies is nie. Dit is net koeke en blomme en rokke en dekor en gastelyste, tot jy een dag jouself vind waar jy Google of dit moontlik sal wees om al jou deposito’s terug te kry en net eerder ‘n weghardloop-troue te doen. My grootste struikelblok is egter tot dusver dat dit vrek moeilik is om ‘n trouliedjie te kies!

So, ek weet wat jy dink… Seriously, Elené, kies net ‘n liedjie en kry klaar. Behalwe vir die feit dat ek uitgevind het dat jy eintlik op minstens drie liedjies moet besluit – ‘n instapliedjie, ‘n eerstedans-liedjie en ‘n pa-en-dogterdans-liedjie – kan ek nou nog vir jou my vriendinne se trouliedjies opnoem omdat dit sulke spesiale oomblikke was.

Daar is natuurlik die moontlikheid dat ek hierdie oordink, maar net vir ingeval dit regtig die belangrikste liedjies is wat ek in my hele lewe gaan kies volg daar nou ‘n paar van my gunstelinge, tesame met ‘n speellys aan die einde waarmee jy ook kan saam luister.

Something Old

Ek is ‘n groot aanhanger van die oldies, en ook nie net Don’t Stop Believing en ander 80s Hair Rock nie. Ek het nog altyd gedink dat iets soos Natalie Cole se This Will Be ‘n uitstekende trouliedjie sal wees, en die liedjie neig tog meer na die R&B-kant toe. As ons besluit om vir ‘n vinniger liedjie te gaan vir die eerste dans, kan ek myself beslis hierop sien dans.

So ook is iets soos die Bee Gees se How Deep Is Your Love een van die eerste liedjies wat by my opgekom het. Behalwe vir lirieke soos “I believe in you / You know the door to my very soul / You’re the light in my deepest, darkest hour”, is ek ook mal oor die fluweelagtige, stadige musiek en wyse waarop die liedjie uitgevoer word – perfek vir daai stadiger, meer romantiese eerste dans.

As ons dan selfs nog verder terug in tyd gaan, sal iets soos Billie Holiday se The Very Thought of You perfek wees, of self The Temptations se Just My Imagination. Beide hierdie opsies is meer vintage, en verleen daarom ‘n baie romantiese atmosfeer, asook ‘n klassieke gevoel.

Terug na die nie-so-ver verlede is daar ‘n paar treffers in die negentigs, wat beslis met my en my tydgenote sal resoneer. Kiss Me van Sixpence None The Richer is een van hierdie liedjies. Of Truly Madly Deeper van Savage Garden. En wie kan vergeet hoe verlief ons geraak het op enige iets van Faith Hill, maar veral This Kiss. En nee, ek het nie van Shania Twain vergeet nie, verbeel jou net jy stap in die paadjie af met From This Moment On wat in die agtergrond speel – chills!

In 2020 kan ons ook maar seker begin om die 00s se musiek onder ‘Something Old’ te sorteer. Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger van James Blunt, so dalk kan You’re Beautiful werk vir ‘n eerste dans. Die twaalf-jarige weergawe van myself sal so opgewonde wees as ek Hanging By A Moment van Lifehouse kies, of wat van Come Away With Me van Norah Jones. As mens enige een van hierdie liedjies kies, kan jy netsowel ten volle die era omarm en ook dink aan Marry Me van Train.

Something New

Die ooglopende voordeel van ‘n onlangse liedjie kies, is dat jy altyd dan kan terugdink aan hierdie tyd en hierdie era. Een van my gunsteling liedjies van die laaste jaar is Taylor Swift se Lover en die weergawe saam met Shawn Mendes is vir my die beste. Nog ‘n Taylor Swift-treffer wat ek sal oorweeg is This Love. Die Ryan Adams-weergawe van hierdie liedjie is dalk selfs meer treffend.

Vance Joy se musiek maak my so gelukkig. Ek is mal oor sy lirieke en sy akoestiese kitaar. Sy Nation of Two-album het ‘n liedjie genaamd I’m With You en van die lirieke lees; “I was just coasting till we met / You remind me just how good it can get / Well I’ve been on fire, dreaming of you” – weereens, chills!

Vir iets meer lewendig – perfek vir daai eerste dans – is Let’s Get Married van Bleachers. Hul voorman, Jack Antonoff, is in my opinie een van die beste liriekskrywers vandag en ek is mal oor sy onkonvensionele styl. Vroeg in ons verhouding het ek en my verloofde ‘n speellys gemaak van liedjies en op daai lys was Adore van Amy Shark – sedertdien voel dit bietjie soos die klankbaan van ons verhouding.

Mumford & Sons verdien natuurlik ‘n seksie op hul eie. Alhoewel hul eerste musiek my gunsteling is, is ek ook mal oor Beloved. Tog is dit Not With Haste wat my byna elke keer laat huil. Marcus Mumford se The New Basement Tapes het ‘n liedjie, When I Get My Hands On You, wat ek letterlik al 100 keer geluister het en steeds is dit vir my so ‘n treffende liedjie.

Nes Mumford & Sons, verdien Bon Iver ook om ernstig oorweeg te word. Sy liedjie Blood Bank is een van my gunstelinge met asemrowende lirieke soos die; “You said “ain’t this just like the present / To be showing up like this” / As a moon waned to crescent / We started to kiss”. My ander gunsteling is For Emma wat afkomstig is van sy gelyknamige album wat Justin Vernon in ‘n houthuisie in Wisconsin opgeneem het.

Meeste van die liedjies waarna ek luister is afkomstig van tv-reekse en films. Een van my groot onlangse musiek-inspirasie is HBO se Big Little Lies. Twee van die liedjies in hierdie reeks sal my altyd bybly as van my gunsteling. Die eerste is Michael Kiwanuka se Cold Little Heart en Leon Bridges se River. ‘n Plaaslike kunstenaar in Stellenbosch, Ethan Florus, doen ‘n akoestiese weergawe van beide hierdie liedjies wat ek heeltemal verlief op is. Ethan het sy eie musiek ook en sy Sonnet is ‘n perfekte pa-en-dogterdans liedjie.

Something Borrowed

Fergie en Josh Duhamel se eerste-dansliedjie was Sweethearts Together van die Rolling Stones. Kate Middleton en Prins William s’n was Your Song van Elton John gesing deur Ellie Goulding, terwyl Kim Kardashian en Kanye West gedans het op At Last van Etta James.

As ons by flieks wil steel, sal Can’t Take My Eyes Off Of You van Frankie Valli, soos in 10 Things I Hate About You beslis op die lys moet wees. So ook Falling Slowly van Glen Hansard soos in die fliek Once, en Unchained Melody van The Righteous Brothers wat in die fliek Ghost is. Maar wie kan die oomblik op die motorfiets in Top Gun vergeet met Take My Breath Away van Berlin, of Anyone Else But You van The Moldy Peaches in die eksentrieke Juno.

Van die silwerskerm na die verhoog – ek het Beautiful op Broadway gesien en is totaal en al verlief op Some Kind of Wonderful van Carole King. Aladdin se A Whole New World gee my hoendervleis elke keer as ek daarna luister, en daar is niks wat my so emosioneel roer soos All I Ask Of You van The Phantom of the Opera nie.

Oor die jare het ek ook troues van my familie en vriende bygewoon. My pa het onlangs getrou en sy eerste-dansliedjie was Perfect van Ed Sheeran, terwyl ‘n vriendin van my op Lana del Rey se Young and Beautiful ingestap het wat só treffend was. So ook het ‘n vriend van my se vrou ingestap op die Han en Leia-tema van die Star Wars-reeks. Ek weet ook van iemand wat op die I am Hers, She is Mine-tema van die Game Of Thrones-reeks ingestap het.

Something Blue

Ek het lank gedink oor hierdie afdeling en besef dat my ‘Something Blue’ beslis Afrikaanse musiek is. Ek is baie lief vir Afrikaans en Afrikaanse musiek en sal, sonder twyfel, ‘n paar gunstelinge wil oorweeg.

Die Afrikaanse liedjie wat my meeste aan my verloofde laat dink is Syn van Spoegwolf. Die eerste vers in die liedjie is my gunsteling, maar my verloofde het altyd die koor vir my gespeel; “as ek haar meer kon mis het ek gedisintegreer” as die verlange op die plaas te veel raak.

Hierdie Vrystaat-meisie kry sommer heimwee as Theuns Jordaan se Sal Jy Bly speel – en ja, ek sal in ‘n ou wit rok trou met jou! Ek het ook nog altyd gedink dat Zinkplaat se Piekniek Op Die Maan een van die mees romantiese liedjies in Afrikaans is. En sonder om nou baie cheesy te wees, roer Toe Vind Ek Jou van Francois van Coke en Karen Zoid steeds my hartsnare.

As ek terugdink aan verlief wees op hoërskool, kom Leja van Heuwels Fantasties onmiddelik by my op as daai perfekte kombinasie van nostalgie, liefde en dinge maak werk. Gepraat van Heuwels Fantasties, hul liedjie Tyd op die Vanfokkentasties album is so ‘n pragtige sentiment. In dieselfde luim, beteken Sonvanger geskryf deur Valiant Swart en uitgevoer deur Laurika Rauch vir my so baie omdat dit een van my ma se gunsteling liedjies was.

Janie Bay is een van my gunsteling nuwe sangers en beide haar liedjies Die Heelal en Sterre Brand sal perfek wees vir eerste-dansliedjies. Alhoewel ek van Jan Blohm se ou musiek hou, is Word Wakker ‘n gunsteling en definitief ‘n opsie. Afrikaanse duette is altyd ‘n goeie keuse en ek is nog altyd mal oor Twee se Ek Sweer. Of net die klassieke My Engel van Melktertkomissie.

Soos die laaste bietjie meer as 1 500 woorde bewys het, is dit vrek moeilik om ‘n trouliedjie te kies, en ek is seker ek gaan nog 100 keer die liedjie verander voor die groot-dag, maar vir nou het ek ‘n lekker nuwe speellys om te luister.

Ek het ook onlangs gaan ondersoek instel oor waar mens se musieksmaak vandaan kom en jy kan die artikel hier lees.

Author

Free State-girl, living in Stellenbosch. Love to explore small towns, read in Afrikaans and everything pop-culture. My favourite yoga move is 'The Pigeon' and one day I'd like to own my own vintage cinema.

Write A Comment