Reading Time: 2 min

Die tyd op my horlosie lees twintig minute voor vyf. Dit is ‘n lang, warm Donderdag. “Wat gaan ek vir aandete maak?” flits vinnig deur my kop. Ek probeer dink aan wat ek in die yskas het om iets vinnig, koel en lig aan mekaar te slaan. ‘n Vars kool, komkommer en suurlemoensap. O ja! Ek het nog ’n pak gevriesde garnale wat ek verlede week teen afslag gekoop het. ‘n Vars garnaalslaai gaan die perfekte somersete maak in ‘n japtrap!

Op pad huistoe stop ek vinnig by my naaste winkel vir ‘n soetrussie, uie en ‘n paar vars kruie. Die vriendelike kasier pak my inkopies in ‘n sak en vra wat ek met die vars gemmer gaan maak.
“Sommer net ‘n vinnige garnaalslaai, die dag was hopeloos te lank om te veel tyd voor die stoof te spandeer,” antwoord ek haar.

By die huis gooi ek my skootrekenaarsak op die bed, bêre die melk en brood en begin my aandete. Hiér is my resep:

Bestandele:

Sous:

15 ml Olyfolie
45 ml Suurlemoensap
2 ml Rooi Rissie Vlokkies
10 ml Heuning
15 ml Vars Gemmer
15 ml Rys Asyn
75 ml Vars Koljander
1 Vars Knoffelhuisie
75 ml Vars Ui
2 ml Gemmer Poeier
2 ml Growwe Sout
Gemaalde Swart Peper

Garnale:

250 g Garnale (Afgedop)
5 ml Knoffel Poeier
2 ml Fyn Gemmer
2 ml Growwe Sout
2 ml Rooi Peper
2 ml Rissie Vlokkies
Gemaalde Swart Peper
5 ml Olyfolie

Slaai:

250 ml Rooi Kool, fyn gesny
375 ml Kropslaai, fyn gesny.
125 ml Gerasperde Wortels
Halwe komkommer, in klein blokkies gesny
Halwe geel soetrussie, in klein blokkies gesny
Halwe rooi soetrussie, in klein blokkies gesny
30 ml Gekapte basil
30 ml Vars koljander
Lemmetjie skyfies, vir bediening

garnaalslaai-resep

Metode:

Gebruik ‘n dompelmenger om al die sous-bestandele saam te meng. Verkoel in die yskas en hou eenkant tot later.

Klat die garnale droog met papierhandoek en gooi in ‘n mengbak. Voeg die res van die bestandele by en meng goed deur.

Braai die garnale in ‘n pan, oor hoë hitte, vir 5-7 minute of tot goudbruin.

Koel die garnale af in ‘n bord, terwyl jy die slaai aanmekaar slaan.

Meng al die fyn gesnyde slaai bestandele in ‘n slaaibak, gooi die afgekoelde garnale bo-oor en rond die gereg af deur die slaaisous oor te gooi.

Bedien binne 30 minute vanaf bereiding, om te voorkom dat die slaai waterig raak.

WENK: Bedien dié gereg as voorgereg, slaai of saam met ‘n Tortilla-wrap.

Die eerste happie verander my gemoed in ‘n oogwink. Binne 30 minute vandat ek by die huis in gestap het, geniet ek ‘n heerlike Asiatiese gereg op my rusbank. Dié garnaalslaai is die perfekte manier om my lang en warm dag af te sluit!

Het jy ook japtrap resepte vir warm somersaande? Deel dit met ons!

Author

Hi, I'm Leandra, a girl from the South African countryside with some well-worn vellies and a love for hiking, camping and indulging in life outdoors. In my spare time you can find me taking photos, cooking and spending time with my friends and family.

Write A Comment