Wat Johnny Clegg my geleer het

Ek het die voorreg gehad om die wit Zoeloe in aksie te sien by Oppikoppi in 2015. Oppikoppi is ‘n hoogtepunt in my lewe, maar daardie spesifieke vertoning sal my altyd bybly. Ek het nooit regtig besef wat ek daardie dag aanskou het nie, maar dit het my die afgelope paar weke getref. 

Johnny Clegg het daardie dag mense bymekaar gebring. Alhoewel hy nie meer met ons is nie, bring hy steeds mense bymekaar.  

Musiek, soos die van Johnny Clegg, leer ons baie goed wat verder strek as bloot die klank.

Hierdie klanke verenig mense van verskillende agtergronde en in my opinie wys hoe die ware reënboognasie lyk. Maar soos ek terugdink aan daardie dag tussen die stof van Northam kon ek sien hoe die klanke die sprong gemaak het oor taal-hindernisse en hoe mense van verskillende agtergronde soos een man saamgesing het; 

“I’m searching for the spirit of the great heart.”

Die eenheid wat musiek na die tafel toe bring is belangrik om te onthou in ‘n tyd soos hierdie.

Voor daardie verhoog in Northam was daar jong- en ouer-mense gevleg en toeskouers van verskillende tale en rasse was saamgedrom met een gemene doel voor oë: Om musiek te beleef. Hulle was daar om ‘n dag van musiek te geniet en dit, dit het hul bymekaar gebring. Oppikoppi was nog altyd vir my ‘n plek van kultuur, nie net vir musiek en kuns nie. 

En ek dink dat dit al is wat Johnny Clegg wou hê.

Vir die duur van sy konserte word die gehoor voor hom verenig in hul wedersydse waardering, in hul begrip van die storie wat sy lirieke vertel en in die erkenning van goeie kuns. 

En dit is wat Johnny Clegg my geleer het. Alhoewel ek net een keer die voorreg gehad het om hom te sien speel, het ek in daardie 45 minute geleer hoe musiek en die kunste die vermoë het om sintuie te roer, mense bymekaar te bring, emosies aan te wakker en die grense van verskillend-wees oor te steek. Soos wat Sean Brand sal sê: “ek het musiek gesien en ek kan nie ophou kyk nie.” 

Ek het eenheid gesien en ek kan nie ophou kyk nie.

Photo courtesy of smalltownmusic.co.za

Leave A Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *